Gedagte vir die dag: Jesus se opdragte

woud_pad_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

‘Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.’ (Johannes 14:21)

Jesus het sy hemelse koninkryk agtergelaat om in eenvoud en armoede op aarde te leef en te werk. Hy moes die boodskap van God se verlossing aan die mensdom oordra, die nuwe leer van liefde en vergifnis verkondig, mense troos en gesond maak en God se werk voltooi deur aan die kruis te sterf.

Maar wat is sy opdragte aan ons, sy volgelinge? In die eerste plek – om Hom lief te hê en om ons naaste lief te hê soos onsself (lees Matteus 22:37–40). As ons Hom liefhet, sal God deur sy Gees vir ons duidelike riglyne gee en tot ons hart spreek en sê wat ons moet sê en doen (lees Matteus 10:19–20).

Jesus se opdragte wat in die Evangelies opgeteken staan, is nie moeilik om uit te voer as ons Hom liefhet nie. Sy volgelinge bewys barmhartigheid (lees Matteus 5:7), is vredemakers (lees Matteus 5:9), sorg dat reg en gereg­tigheid geskied (lees Matteus 5:6–9). Hulle is lief vir hul vyande en bid vir hulle (lees Matteus 5:44), hulle bely Jesus openlik voor ander mense (lees Matteus 10:32), hulle is lief vir kindertjies (lees Markus 9:37) en beskerm hulle teen bose invloede (lees Markus 9:42), hulle voed dié wat honger en dors is, gee huisvesting aan vreemdelinge, deel klere uit vir dié wat nie het nie, verpleeg die siekes en besoek die gevangenes (lees Matteus 25:34–36).

Sy laaste en belangrikste opdrag staan in Matteus 28:19–20: ‘Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.’

Sal die wêreld nie ’n beter plek wees as ons wat onsself Christene noem, sy opdragte getrou uitvoer nie?

Here Jesus, dankie dat U ons leer om u liefde uit te leef.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christine ·

Ek vra ook genade en voel skuldig. Nes NeelsieDaar is darem ook gese Moenie jou perels voor die varke gooi nie, hulle sal dit vertrap. Dankie Helena vir al die omgee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.