Gedagte vir die dag: Jesus se vrede

vrede_dam.jpg

Foto: harvestministryteams.com

Lees: Johannes 14:27-31

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. (Johannes 14:27)

Augustinus skryf tereg dat God ons vir Homself gemaak het, en dat ons harte onrustig bly tot dit rus in Hom gevind het. Jesus se erfporsie aan sy kinders is sy vrede – ’n vrede wat niemand ooit weer van hulle kan wegneem nie, omdat dit in God self gesetel is. Geen uiterlike rampe of negatiewe omstandighede kan daardie innerlike vrede laat verdwyn nie. “Christus is ons vrede. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was,” verduidelik Paulus aan die gemeente in Efese (Efesiërs 2:14, 17).

God wil vandag hierdie Jesusvrede vir jou kom aanbied. As jy dit in ontvangs wil neem, het jy genoeg tyd by Hom nodig, tyd om sy Woord te bestudeer, om te bid, om in verbondenheid met Hom te leef. Maak elke dag tyd om by jou Herder deur te bring, sodat jy telkens met nuwe moed en krag vervul kan word.

God wil jou oorvol program wegneem deur jou toe te laat om te bepaal wat voorkeur geniet en weer te ontdek watter dinge werklik belangrik is. Hy wil jou na sy waters van vrede bring, maar jy moet Hom toelaat om dit te doen. As jy gewillig is, sal jy vind “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Filippense 4:7).

Here Jesus, ek bid dat u innerlike vrede so onlosmaaklik deel van my lewe sal word, dat stres en gejaagdheid nooit weer my lewe sal oorheers nie. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E ·

So waar. Partykeer is ek so gejaag met alles wat ek moet doen in die dag dat ek skoon vergeet van dit wat die heel belangrikste is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.