Jesus se vriendskap – geen groter liefde

Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” Johannes 15:13-17

Die afgelope maand het ons baie geleer van verskillende vriende in die Bybel en hoe hulle in verskillende situasies gereageer het. Hier leer ons van Jesus self oor vriendskap en Hy draai nie doekies om nie. Wees lief vir mekaar. Wees selfs bereid om vir mekaar te sterf as dit nodig is.

Vriendskap gaan oor opoffering. Dit gaan oor die ander persoon, nie oor jouself nie. Jesus is die volmaakte voorbeeld: om ‘n vriend te wees beteken om alles te gee sonder om iets terug te verwag. Soms is dit makliker gesê as gedoen, veral as ons baie omgee vir die persoon vir wie ons die opoffering moet maak. Maar Jesus het nie gesê dat om Hom te volg maklik is nie, of hoe?

Hoe naby aan Jesus se voorbeeld is jou vriendskap? Wat verhoed jou om iemand anders se behoeftes bo jou eie te stel? Wat kan jy vandag doen om uit te reik na iemand in jou onmiddellike kring? Jou klein gebaar, beteken dalk die wêreld vir iemand anders.

Vier jou vriendskappe en sluit nuwes. Hernieu en versterk jou bande met ou vriende, want soos ons ouer word verander hierdie verhoudings dikwels. Verbreed jou netwerk, reik uit na mense wat jy nie goed ken nie. Daar is altyd iemand wat dit wat jy kan gee, nodig het.

Gebed: Here, ek dank U in die eerste plek vir u vriendskap. Ten spyte van wie ek is, het U my nog nooit alleeen gelaat nie. Dankie vir vriende wat U vir my gegee het – nuwe of ou vriende, vriende wat naby of ver is. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.