Gedagte vir die dag: Jesus uit sy plek

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Lees: Lukas 7:34

Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is ’n mens wat ’n vraat en ’n wynsuiper is, ’n vriend van tollenaars en sondaars. (Lukas 7:34)

Ek en my man is ’n paar jaar gelede na ’n uitvoering van die bekende violis Joshua Bell genooi. Wat ’n belewenis om so ’n talent volle violis in ’n ouditorium op ’n 300 jaar oue viool te sien speel. Op die internet is daar egter ’n video van Joshua waar hy in die VSA op ’n stasie speel. Hierdie meester lyk so uit plek waar hy vir 43 minute speel en 1 097 by hom verbyloop. Die video se naam is “Pearls before breakfast”.

Volgens menslike standaarde het die verwagte Messias, die Koning van die konings, ook uit plek gelyk waar Hy opgetree en geleef het. Hy het tussen die mense geleef, saam met vreemde mense gekuier en eet – mense wat vir kerkmense nie altyd sosiaal aanvaarbaar was nie. Die Messias het op anderste plekke geloop. Hy is daarvan beskuldig dat Hy onaanvaarbare vriende het. Jesus het tollenaars en sondaars se geselskap verkies bo godsdienstiges s’n. Hy het saam met die sondaars gelewe en gewerk.

Waarom? Want Jesus deel genade met die verlorenes. Hy loop saam met hooploses. Hy gee bekertjies koue water aan die wat dit nodig het. Hy gee nie om vir die reuke van armoede en sonde nie. Hy het juis vir hulle gekom.

Net so uit plek as wat Joshua Bell tydens sy uitvoering op die stasie gelyk het, so uit plek kom Jesus vir ons voor wanneer Hy mense dien en siekes gesond maak. Dalk is dit tyd dat ons mense op ongewone plekke begin dien. Dalk moet ons vir ’n slag ruik hoe armoede lyk, ons moue oprol en ons hande vuil maak. Dalk sien ons die Here dan aan die werk op vreemde plekke!

Here, ek is so veilig waar ek werk en woon. Ek het al vergeet hoe armoede lyk en ruik. Maak my bereid om U te gaan soek op vreemde plekke. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Esmè Cronje ·

Jesus lees die harte van mense. Die kosbaarheid van ‘n siel was vir hom baie belangriker as wat die uiterlike weergegee het. Dit het nooit vir Hom gegaan om die uiterlike nie, maar die uitroep sonder woorde uit ‘n stukkende en gebroke mens wat Hom innig nodig gehad het. As dit nie vir Jesus was nie, was ek steeds vir ewig verlore. Hy het my uitroep gehoor en my pad langs gekom en my lewe vir ewig verander. Dankie Jesus dat U ook op ‘n dag by my kom stilstaan het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.