Gedagte vir die dag: Jesus is die Messias

kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (Handelinge 2:36)

Israel het geleef met die belofte dat ’n Verlosser sal kom. Hierdie Verlosser sou ’n mens wees, maar meer as ’n mens – Hy sou God se werk op aarde wees, God se intervensie. Hy sou sy volk verlos, vrede bewerk, die verlore kinders van Israel vergader en die tempel en die wet herinstel. Met Hom sou die laaste dae aanbreek. Hierdie Verlosser of “Gesalfde” (Hebreeus: Messias, Grieks: Christus) hét gekom, naamlik Jesus Christus! In Hom word die hele Ou Testament vervul, word elke belofte waar!

Die Jode glo steeds nie dat Hy die Messias was nie, maar as jy mooi kyk, sal jy sien wat God deur Hom gedoen het: die verlossing is bewerk, die Gees is uitgestort, die kerk is opgerig, die verlorenes word gevind en die God van Israel word oor die wêreld heen aanbid. Die Messiaanse Era het aangebreek, maar kom ook nog in sy volheid wanneer alles afgehandel sal word. Nee, die Messias hét gekom, die Verlosser hét ons verlos! Aanvaar die Verlosser – en jou verlossing!

God van Israel, dankie dat al u beloftes waar geword het in Jesus Christus. Hy is die Verlosser en Hy is mý Verlosser! Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theunis ·

Ek stem saam met Andries. Hy is ons verlosser en nie was nie.

Jan Seerot ·

Ek glo in God die Vader, die skepper van die hemel en die aarde…
Ek glo in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun…vir my gesterf het…gekruisig, gesterf en opgestaan het…
Ek glo in die Heilige Gees, my Trooster…veral nou waar ek Hom só nodig het.
Ek glo dit alles. Ten volle. Heeltemaal.

Net ek ·

Beslis nie “was” nie, Jesus IS die Messias. Hy is ons Verlosser en saligmaker tot in ewigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.