Jonatan en Dawid – Jonatan se selfopoffering

Jonatan en Dawid het ‘n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. Samuel 18:3-4

Een van die bekendste verhale oor vriendskap in die Bybel is die verhaal van Dawid en Jonatan (1 Samuel 18-20). Na sy oorwinning oor Goliat in 1 Samuel 17, het Dwid lid van die koninklike familie geword. Saul het belowe dat die man wat die Filistyne se baasvegter verslaan, met sy dogter kon trou. Dawid is toe met Saul se dogter getroud. As deel van Saul se gesin en van die koninklike hof, het Dawid baie tyd met Jonatan, Saul se oudste seun, spandeer.

Ten spyte van hulle verskillende agtergronde, ‘n skaapwagter en ‘n prins, het Dawid en Jonatan mekaar as geesgenote ervaar – hulle gemeenskaplike uitkyk op die lewe en die feit dat hulle dit eens was oor sake het hulle nog nader aan mekaar gebring. Dit was werklik ‘n geval van jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die een het ook die ander vooropgestel. In vers 4 lees ons dat Jonatan sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee het. Hy het selfs sy swaard, sy boog en sy gordel vir Dawid gegee. Anders gestel, Jonatan het gewillig die simbole van sy posisie as kroonprins van Israel vir Dawid gegee.

Hierdie liefde is ook duidelik in 1 Samuel 23:17. Jonatan vertel aan Dawid dat hy weet dat Dawid na Saul die koning van Israel gaan word. Jonatan is egter nie jaloers nie, hy is van plan om by Dawid te staan selfs wanneer Dawid die troon bestyg wat regtens Jonatan toekom. Dit is ‘n wonderlike prentjie van selfopoffering.

Kan jy ‘n vriendskap sluit met iemand wat ‘n posisie en rykdom gaan ontvang wat jou eintlik toekom?

Gebed: Here Jesus, so dikwels is ek jaloers op die sukses wat my vriende behaal, en in plaas daarvan dat ek hulle ondersteun is ek bitter en afgunstig. Help my om hulle te help om die mense te word wat U wil hê hulle moet wees. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.