Josua en Kaleb – vriende in woord en daad

Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ‘n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Numeri 14:6-8

Miskien onthou jy die verhaal van die 12 spioene wat gestuur is om die Beloofde Land te gaan verken en aan die Israeliete verslag te kom doen. Hulle het saamgestem oor die inhoud van die verslag; dit was waarlik ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hulle het verskil oor hoe Israel op hierdie nuus moes reageer.

Tien van hulle het dieselfde mening gehuldig. Hulle het gesê Israel kan nie die land binnetrek nie – die vyand was te groot. Twee getroue, dapper manne het egter van die ander verskil. Kaleb het namens hulle gepraat en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”(Numeri 13:30) DIt moes baie moed geverg het om voor die hele volk te sê wat hulle gesê het. Hierdie twee manne is deur hulle oortuiging aan mekaar gebind.

Wanneer jy en iemand anders die enigste twee in ‘n groep is wat reg doen, die enigste twee in jou skool of klas is wat openlik vir Jesus Christus getuig, die enigste individue in jou gesin of buurt is wat Christus bely, kan dit julle soos ‘n Kaleb en Josua saamsnoer.

Josua en Kaleb was vriende deur dik en dun. Hulle vriendskap is getoets, maar tog het hulle in woord en daad saamgestaan. Miskien is jy geseën met so ‘n vriend, iemand wat in woord en daad by jou sal staan. Indien wel, sê vandag nog vir daardie persoon hoe baie jy hom of haar waardeer en vind ‘n manier om dit ook vir jou vriend te wys.

Gebed: Hemelse Vader ek dank U vir vriende wat my oortuigings deel. U woord leer my om nie net te sê dat ek iemand liefhet nie, maar om dit ook deur my dade te bewys. Help my om vandag ook deur my dade my vriendskap te bewys. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.