Gedagte vir die dag: Jou begeertes

Stiltetyd-27.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie. (Eksodus 20:17)

Toe die Israeliete die slawernybestaan in Egipte agtergelaat en in die vryheid van God se verbond begin leef het, moes hulle onder meer leer om die tiende gebod te gehoorsaam: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie” (Eks 20:17).

Onderliggend aan hierdie gebod is dié boodskap: “Wees tevrede met wat jy het. Wees dankbaar vir wat jy het.”

Dis maklik om die verband tussen die volledige gebod en dankbaarheid raak te sien. As jy tevrede is met wat jy het, sal jy nie begeer nie. As jy dankbaar is, sal jy die tiende gebod in God se liefdesverbond met jou hele hart kan nakom.

Navorsers wat op dankbaarheid fokus, het die sleutel om hierdie gebod te gehoorsaam op ’n wetenskaplike wyse vasgestel. Hulle het naamlik gevind dat daar ’n innerlike vrede, ’n “peace of mind” teenwoordig is by diegene wat in dankbaarheid leef.

Die bykomende interessantheid van hul bevindings lê hier: Dankbare mense heg minder waarde aan materiële dinge. Hulle is minder geneig om hul eie en ander mense se sukses op grond van besittings te meet. Hulle is dus ook minder geneig om afgunstig op ander te wees.

Die navorsers het voorts vasgestel dat dankbare mense dit baie makliker vind om lief te wees vir dit wat hulle het. Dat hulle nie opgeskeep sit met die soort onsekerhede wat die voorland is van mense wat hulle met ander vergelyk nie. “They aren’t so preoccupied with the kinds of insecurities that come from ‘comparing and despairing’ or comparing their insides with everyone else’s outsides.”

Hoe kan ons God se tiende gebod gehoorsaam? Deur dankbaar te wees vir wat ons het.

Here, dankie vir wat ek het. Help my om met ’n dankbare hart te leef.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarie ·

sodra jy dankbaar is begin jou liggaam se vibrasie hoër gaan en dit is wanneer goeie dinge na jou toe kom, God kan nie met mense werk wat heeldag loop en kla oor wat hulle NIE het nie, Here help ons om selfs vir die glas water op ons tafel dankbaar te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.