Gedagte vir die dag: Jou dae is getel!

Psalm 90 10-12; 17:

Ons lewe maar sewentig jaar,
Of, as ons baie sterk is, tagtig,
En die is vol swaarkry en leed.
Dit is gou verby,
ons vlieg na ons einde toe….
Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid kan bekom. ….
Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.

ʼn Hele paar maal word daar in die Bybel na die kortstondigheid van die mens se lewe verwys. Dis soos die gras van die veld. Dit hou kwalik ʼn dag en dan waai die wind daaroor en dit is klaar met jou.

God gun jou egter die geleentheid om in hierdie kort tydjie geskiedenis te maak met hoe jy lewe. Jy kan waarde aan die lewe op aarde toevoeg. Jy kan ʼn verskil maak. Die vraag is net: wanneer begin jy leef met passie? Dalk is dit eers wanneer ons waarlik weet en verstaan dat ons ʼn beperkte tyd op aarde het, en dat daar geen manier is vir ons om te weet hoeveel dae oor is nie, dat ons sal begin leef asof elke dag die laaste dag is wat ons oor het.

Christus het so geleef. Omdat Hy geweet het sy dae op aarde is getel – net so oor die 12 000 dae is aan hom gegun – het Hy die tyd uitgekoop. Hy het geweet waarom Hy gebore is. Dit het al in die sterre by sy geboorte geskryf gestaan. Sy Vader het al eeue gelede geweet wat sy taak op aarde sou wees. Sy hele lewe was gerig op sy roeping.

Wat van jou? Weet jy wat jou roeping is en hoe passievol is jy daarop ingestel om dit te vervul? (Let wel: daar is geen ouderdomsperk op die vervulling van jou roeping nie.)

Gebed:
Here, ek bely my lewe maak skaars ʼn rimpel op die oppervlak. Inspireer my met u liefde om iets van u passie vir die mens en die skepping uit te leef. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annatjie ·

Baie dankie vir hierdie boodskap. Wat van ‘n daaglikse boodskap? Dis om die koerant lees met skriflesing en gebed te open.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.