Gedagte vir die dag: Jou eer en jou aansien

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Maar U, Here, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. (Psalm 3:4,, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Dawid skryf hierdie woorde toe hy moes vlug van sy seun Absalom, wat ’n magsgreep uitgeoefen het. Dis sy eie skuld, want sy sonde met Batseba haal hom nou in. Hy het ’n man se vrou eenvoudig afgevat en hom toe laat omkom in die oorlog. Dis baie erg!

Dawid is intens bewus van sy skande, maar hy het God se vergiffenis afgepleit en ontvang. Nou klou hy aan God vas, want hy het geen ander heenkome nie. Hy glo radikaal dat God steeds by hom is, want God het ’n verbond met hom gemaak. Hy glo dat God hom selfs hieruit sal red, dat God selfs van hier af sy eer sal herstel. Trouens, hy bely dit: Hy is my skild, my eer … Ons moet ’n reguit pad stap – ja, ongetwyfeld – maar soms doen ons verkeerd, en soms baie verkeerd. Die wonder is egter dat God selfs in ons ontrou getrou bly, want dit is hoe Hy is. Lig dus jou kop op: Hy is nog daar, nog betrokke.

Getroue God, beskerm my vandag teen myself en herstel my waar ek gefaal het. Amen.

Bron:
Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.