Gedagte vir die dag: Jou gedagtes

vrou_sonsondergang_dink_see_staar.jpg

Foto: stringsofsoulfulness.com

Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Korintiërs 10:5)

Die Bose het die manier om jou gedagtewêreld binne te dring deur onverwags jou aandag af te trek – selfs wanneer jy Bybel lees en bid of na ’n preek luister. Jou gedagtes dwaal na iets simpel soos jou kruidenierslys en dan mis jy ’n belangrike punt. Die Bose teiken jou ook as jy ongelukkig of eensaam is en neem jou gedagtes oor met verwyte en wrokke. Hy trek jou stadig af in ’n put van depressie en oortuig jou dat die lewe nie die moeite werd is nie, dat jou geloof jou nêrens bring nie, dat God jou vergeet het en dat Jesus nie van jou weet nie. Wraakgedagtes, moordgedagtes, selfmoordgedagtes kom alles van die vader van leuens.

Neem jou gedagtes as’t ware gevange en rig hulle op Jesus. Hy weet wat jou pla en wag vir jou sodat Hy die onkruid wat die Bose in jou hart gesaai het, kan uitpluk en die goeie saad van die evangelie kan plant.

God ken jou gedagtes, jy kan dit nie vir Hom wegsteek nie, Hy het dit lankal sien kom. ‘Of ek sit of opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom,’ sê Dawid in Psalm 139:2.

Ongelukkig ken jy nie altyd God se gedagtes en bedoelings nie. Die profeet Miga stel dit duidelik: ‘Maar hulle ken nie die plan van die Here nie; hulle verstaan nie wat Hy besluit het nie’ (Miga 4:12).

Wanneer jy die Bose toelaat om jou gedagtes te kaap en so besig te hou dat jy uiteindelik nie meer God se stem hoor nie, sal jy verlore gaan. God wil sy planne aan jou openbaar, Hy wil jou insluit by die groot gesprek oor die ewige toekoms van die mensdom. Hy wil in beheer wees van jou gedagtes en dit met wysheid vul.

Here God, toets my en deurgrond my gedagtes, reinig my gemoed en maak my oop en ontvanklik vir u hemelse wysheid.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christine ·

Dankie Helena Hugo vir die een het net vanoggend weer met my gebeur na die vyfde keer kon ek darem bid sodat ek heeltemal bewis gewees het wat ek bid. Want ek probeer die eerlike paaijie met gebed.

Maria ·

Dankie vir die kosbare inspirasie. Dit gebeur so dikwels met my. Blessings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.