Gedagte vir die dag: Jou hoop lê daarin om God te vertrou

manPsalm 146:5 – Hoor mooi, jy sal nie ʼn fout maak as jy op die God van Jakob vertrou om jou te help nie. Hy het deur die geskiedenis gewys dat jy Hom kan vertrou. Iemand wat die Here as sy God vertrou, is ʼn baie gelukkige mens.

As jy terugkyk op jou lewe lyk dit dalk na skerf op skerf op skerf. Soveel dinge het gebreek en is stukkend. Dalk het jy al moed opgegee en hoop verloor. Dalk het mense jou al op groot skaal teleurgestel en was niemand daar toe jy hulle die heel nodigste gehad het nie. Daarom voel jy af en miserabel en asof jy niemand meer kan vertrou nie. God hou die hele wêreld in sy hand. Daar is niks wat gebeur waarvan Hy nie bewus is nie. Hy is in beheer van die geskiedenis van die wêreld. As jy terugkyk oor jou lewe, lê daar een lang streep van genade op genade en genade. As jy mooi gaan dink, gaan jy aan baie tye kan dink wat Hy jou gedra het toe jy nie meer kan loop nie. Die slotsom van alles is: God is getrou en Hy gee hoop. As iemand my vra na my definisie van hoop, is my antwoord baie kort: Jesus. As iemand my vra wat is my definisie van genade, is my antwoord baie kort: Jesus. Jy kan God werklik vertrou met die fynste detail van jou lewe. Om in Hom te rus en sy vrede te ervaar maak ʼn mens gelukkig. Te midde van ʼn besige, gejaagde wêreld kan jy hoop ervaar en werklik gelukkig wees, want hoop is ʼn Persoon.

Daar is geen hopelose situasie in die lewe nie. Daar is slegs mense wat hooploos omtrent hulle geraak het. – Clare Boothe Luce

Gebed: Here, dankie dat ek U onvoorwaardelik kan vertrou. Dankie dat U my hoop is. Dankie dat U my gelukkig maak.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.