Gedagte vir die dag: Jou lewe praat harder as jou woorde

Hart_teken_sand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Moenie wraak soek of ’n grief teen iemand koester nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here. (Levitikus 19:18)

Dit help nie om vir jou kinders of kleinkinders te sê om nie te skree nie, maar dan skree jy self op hulle wanneer hulle droogmaak. Of om van hulle te verwag om nie in die openbaar lelik te praat nie, maar tuis laat waai jy met gekruide taal. Jou voorbeeld praat altyd harder as jou woorde. Die eerste boek wat mense lees, is jou eie lewe, nie jou woorde nie.

Wat help dit jy praat oor die Here, maar jou lewe praat die taal van liefdeloosheid? Genadiglik werk dit ook andersom. Ek onthou juis van een oom in ons kerk doer in my hoërskooldae. Hy was vir my ’n lewende voorbeeld van geloof. Eendag het ons kerkjeug ’n klompie kindertjies met spesiale behoeftes uitgenooi vir ’n speletjiesdag na ons kerk toe. Aan die einde van die dag vra een kindjie vir die oom: “Is Oom dalk Jesus?” Sy lewe het op die mooiste maniere harder gepraat as al sy woorde. Sy lewe het op die regte maniere gepraat van die Here se goedheid. Doen jy dieselfde. Laat jou dade nooit in jou woorde se pad staan nie.

Bron: ‘n Veilige Vesting deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek U voorbeeld mag navolg….help my waar ek so dikwels tekort skiet…Jesus Naam ter ere

SomeOne ·

dankie stephan vir al jou pragtige woorde wat jy vir ons gee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.