Gedagte vir die dag: Jou liefdevolle Pa wag vir jou met oop arms    

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die lewe gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie, Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. (Jesaja 49:15-16)    

My seun sit vanaand voor my. Ek sien die worstelstryd op sy gesig, die vrees in sy oë vol trane, en my hart krimp ineen vir hom. Ek voel ’n diepe liefde, en tog kan ek hom eers help as hy sy hart oopmaak. Ek sien myself ook so voor God. Ek worstel met iets en gaan na God toe, maar hou tog terug en is bang vir … wat presies? Wat is dit wat ons so bang maak om ons hart oop te maak voor Hom? Hy ken ons elkeen tog deur en deur.

My kind het eindelik sy hart oopgemaak. Wat vir hom soos ’n berg was, was vir ons as ouers niks nie. Ons kon hom vashou en ons onvoorwaardelike liefde oor hom laat reën. Die verligting in sy oë het my hart gebreek – hoe kon hy selfs twyfel?

Toe tref dit my … ék kyk soms so na my Vader. Wat ’n openbaring van God se Vaderlike liefde vir ons. Daar is niks, maar niks wat ons kan doen wat Hom sy rug op ons sal laat keer nie. Dit het Hy net een keer gedoen – met Christus aan die kruis toe Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Vir my en jou is daar net die oop arms van ’n Vader wat wag dat ons sal kom en alles vir Hom vertel sodat ons sy liefde en vergifnis, sy genade en liefdevolle blik kan ervaar. Niks kan ons van die liefde van God skei nie (Rom. 8:31-39)!

Vader, ek wil vandag kom hart oopmaak. Dankie dat niks wat ek U gaan vertel, my van u liefde kan of gaan skei nie … Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariaan ·

Na my kind deur haar eie pa vermoor is is dit moeilik om te glo dat die Here bestaan…

ina ·

ek het vir baie jare gebid ,dat God my seun moet help, met die gene wat hy van sy pa geerf het te verlos. na baie jare het my kind n maat gekry, en self opgehou met drink. Toe kry sy kanker en hy staan haar by, vir lank het hy haar versorg,
maar toe kry my kind n stroke, en sy brein is beskadig,
God het hom gehelp om verlos te wees van satan, maar wat het ek nou van my kind, n lee dop .Ek was kwaad, baie kwaad vir God, tot ek besef het al sukkel ek om die versorgings oord te betaal, weet ek waar my kind is, en hy onhou my nog, nou moet ek bedel om sy blyplek te betaal, maar ek doen dit, want my kind lewe,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.