Gedagte vir die dag: Jou plek van geboorte

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

“Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.” (Johannes 1:1-3)

In Jakobus 1 lees ons ’n interessante skrifgedeelte. Iemand wat ’n hoorder van die Woord is, maar nie daarvolgens leef nie, is soos iemand wat na sy gesig in ’n spieël kyk, homself bekyk, wegstap van die spieël en dadelik vergeet hoe hy lyk.

Het jy al ooit daaraan gedink dat jou plek van oorsprong die Woord is. Van die begin af was die Woord daar en uit die Woord het jy jou ontstaan. Ons is na die beeld van God, die beeld van die Woord, geskape. Wanneer ons die Woord lees, lees ons die bloudruk van ons wese. Wie God ons geskep het om te wees.

Om dit nie uit te leef nie, is om soos ’n verlore siel in niemandsland rond te dwaal. Soos iemand wat nie weet wie hulle is nie. Iemand wat nie weet waar hulle vandaan kom of weet waar hulle hoort nie. Soos iemand wat nie weet waarheen hulle op pad is nie. Selfs al sou hulle iewers eindig, sou hulle steeds nie weet of dit is waar hulle veronderstel is om te wees nie.

Alles wat jy nodig het, is in sy Woord. Wanneer ons die Woord lees en vergeet wat daarin staan, vergeet ons dat ons sy genade in oorvloed ontvang het. Vergeet ons dat ons nie alleen is nie. Vergeet ons dat ons die Heilige Gees as ons Helper het, wat kragtig in en deur en vir ons werk in elke situasie.

In Christus Jesus het ons lewe. Lewe in oorvloed. Hierdie lewe wat in hom is, dien as die lig op ons pad; die duisternis kan dit nie uitdoof nie. Dalk het dit tyd geraak om weer tyd in sy Woord deur te bring. Weer jouself te sien in die spieël van sy Woord. Weer herinner te word aan jou plek van geboorte. Weer in besit geneem te word daardeur.

Lees die Woord. Onthou wie jy is. Leef dit! Jy is tot alles in staat deur Christus Jesus!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.