Gedagte vir die dag: Jou roeping

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ’n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: ‘Volg My!’ Hy het toe opgestaan en Hom gevolg. (Matteus 9:9)

Daar word gesê dat ’n mens ’n passie moet hê vir iets as jy ’n sukses van jou lewe wil maak en gelukkig wil wees. Sukses is mos een van die kriteria wat ons as mense gebruik om iemand as gelukkig te definieer – suk­ses en rykdom. Maar mense het soms ’n passie vir iets wat vir ons na ’n ver­lore saak lyk. Hulle sukkel om vigstehuise of veilige hawens vir mishandelde vroue en kinders aan die gang te hou. Hulle kollekteer tevergeefs vir ouetehuise en sopkombuise en steeds bly die saak hul passie.

In die oë van die wêreld sou dit vir Matteus wat as tollenaar sekerlik goed geld gemaak het, geen voordeel ingehou het om Jesus te volg nie. Die verskil is, Matteus het in Jesus se oë gekyk en daar baie meer ontdek as wat hy ooit in sy beroep kon bymekaarmaak. Hy het Jesus se passie vir ’n verloregaande wêreld gesien, sy liefde vir randfigure en sondaars, vir mense wat genesing nodig het. Die beroep wat hy tot op daardie oomblik so getrou gevolg het en wat hom finansieel goed te pas gekom het, het skielik leeg en eerloos gelyk. Sonder om twee keer te dink, het hy opgestaan en Jesus gevolg.

Dieselfde het met Simon Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas gebeur, al­mal vissers wat mekaar geken het en saam gewerk het in die omgewing van Betsaida en Kapernaum aan die See van Galilea. Hul lewe lank was hulle vissers, ’n beroep wat van vader na seun oorgedra is, mense wat naby die water geleef het. Jesus het hulle geroep en onmiddellik het hulle hul nette gelos en Hom gevolg (lees Markus 1:18).

Wanneer Jesus jou roep, kan jy nie anders nie, sy stem is te duidelik, sy liefde te oorweldigend.

Here Jesus, dankie dat U sondaarmense roep om U te volg en dat U vir ons werk het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.