Gedagte vir die dag: Jou sterkte kan iemand help in ’n krisis

 hande_4_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ’n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. (Markus 2:4)

Wat hoor jy as jy die woord “krisis” hoor? Skielik is dit wat altyd daar ver was, nou iets hier naby en word jy gekonfronteer met die kern van jou bestaan.

Gedurende ’n krisis bevind jy jou skielik in ’n stuk niemandsland, want dit wat sin gemaak het, word bevraagteken, en die wonderlike betekenis van die lewe is nie meer so wonderlik nie.

Die vier vriende in ons teksgedeelte besef hulle sal buite die boks moet dink om iets vir hulle verlamde vriend te doen. Hulle besef dat hulle nie die enigstes in nood is nie, want hier is ’n horde mense en elkeen wil iets van Jesus se teenwoordigheid beleef.

Alles wat tot hiertoe oënskynlik belangrik was, word nou sekondêr, want hulle vriend kom nou eerste. Die status quo word vervang met die status novo, iets anders en iets nuuts.

Reëls word oorboord gegooi, want dit gaan nie werk nie. Hulle moet aanpas. Deur die dak word die enigste opsie en dit is hulle geleentheid. Hierdie manne gryp die geleentheid aan, want hulle besef dit is nou of nooit. Die sosiale kommentaar pla hulle min, want Jesus is nou hier; daarom kan hulle nie wag nie!

Het jy al ’n bietjie buite die boks gedink? Het jy al die status quo vervang met die status novo? Nie ter wille van jouself nie, maar ter wille van jou vriend(-e).

Here, gee dat ek ’n vriend sal wees wat bereid is om die status quo te weerstaan ter wille van u koninkryk. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.