Gedagte vir die dag: Gebruik jou talente om God te verheerlik

Vrou_Klavier.jpg

Foto: Gert Becker

Lees: 1 Petrus 4:7-11

As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. So moet julle God in alles verheerlik. (1 Petrus 4:10-11)

Elke mens kry twee soorte talente. Met die eerste soort word jy gebore – hulle is persoonlike geskenke wat God aan jou toevertrou. Sommige mense is musikaal, ander is sportief, nog ander het ’n aanleg vir syfers of kuns. Hierdie talente help jou om die regte loopbaan te kies en ’n sukses te maak van jou lewe. Hierdie tipe talente verskil van persoon tot persoon. Ons kry ook geestelike talente wat ons in God se koninkryk moet inploeg. Ook hierdie talente verskil. Oor hulle praat Paulus in 1 Korintiërs 12, en hulle moet gebruik word om ons mede-Christene in hulle geloof te versterk en God se koninkryk op aarde uit te brei.

Daar is egter één talent wat élkeen van ons in sy of haar lewe moet hê as ons God bly wil maak, en dit is die liefde. Die liefde is die sement wat al die gawes in ’n sinvolle eenheid bymekaarhou, skryf Johan Cilliers.

Ons talente behoort altyd oor God te gaan, skryf Stephan Joubert in Vreugde-vrou. Dit gaan oor sy verheerliking en sy eer. My gawes en talente is nie bedoel om my eie klein koninkrykie te bou nie. My talente word gawes wanneer ek dit aktief en aanhoudend in God se diens stel.

Wat doen jy met jou talente? Stel jou vanjaar ten doel om hulle te identifiseer, uit te bou en tot eer van God te gebruik.

Vader, dankie vir talente en gawes wat U aan my toevertrou het. Ek wil hulle vanjaar gebruik om U te verheerlik en u koninkryk uit te bou. Help my asseblief daarmee. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.