Gedagte vir die dag: Jou tyd is kosbaar

Sonsopkoms-strand-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. Die nag is byna verby; dit is amper dag. (Rom 13:11-12)

Lees Romeine 13:8-14

Paulus het hierdie uitspraak byna 2 000 jaar gelede gedoen. Hiermee wou hy vir die Christene in Rome sê dat tyd kosbaar is; dat Jesus se wederkoms naby is. Daar is geen beter tyd om oor hierdie teks vers na te dink as juis aan die begin van ’n jaar nie. Niemand van ons weet hoeveel lewenstyd ons oorhet nie. Ons het doodeenvoudig nie tyd om voort te gaan met ’n lewe wat nie volgens God se bepalings ingerig is nie.

Die storie word vertel van die groot evangelis Dwight Moody wat een aand ’n groot skare oor sonde en God se oordeel toegespreek het. Hy het almal uitgenooi om die volgende aand wéér te kom sodat hy met hulle kon gesels oor God se genade en verlossing. Daardie nag het die saal waarin die byeenkoms gehou is, afgebrand, en Moody het nooit weer die kans gehad om met dié spesifieke groep mense te praat nie. Hy het homself sy lewe lank verwyt omdat hy die tyd nie eerder gebruik het vir ’n bekeringspreek nie.

Gebruik vanjaar elke geleentheid wat na jou kant toe kom; lewe soos God van jou vra sodat jy nie later spyt sal wees dat jy jou tyd nie reg benut het nie. Tyd wat gemors is, kan jy nooit terugkry nie.

Here Jesus, ek besef dat die tyd van u wederkoms elke dag nader kom. Leer my om my tyd reg te gebruik en te leef soos U van my vra. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.