Gedagte vir die dag: Jou verjaarsdag herdenk jou uniekheid

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 139:13-14

U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! (Psalm 139:13-14)

Ek is mal oor verjaarsdae. Ek sien vir dae uit na die dag en wan neer ek my present kry, skeur ek die papier haastig af om by my verrassing uit te kom. En dit moenie ’n geskenkbewys wees nie, nee, dit moet ’n present wees. Verjaarsdae is spesiaal.

Wanneer ek Psalm 139:13-14 lees, staan ek in verwondering dat die Here soveel moeite met elkeen van ons doen. Ons is elkeen spesiaal. Die Here het ons uit niks geskep. Hy het ons elkeen uniek geskep. Hy weet van elke haar op ons kop en die gerinkel van ons lag. Hy ken ons elkeen deur en deur.

Dié verse maak my opgewonde! Die Here het ons geskape soos wat Hy goedgedink het. As sy skepsels moet Hy tevrede wees met ons! Wat ’n voorreg om een van sy kunswerke te wees.

Wat my nog meer opgewonde maak, is dat ons elkeen uniek is. Nie eers identiese tweelinge lyk honderd persent dieselfde nie. Ons elkeen is wonderlik geskape.

Al wat ons kan doen as ons hierdie ongelooflike daad van die Here verstaan, is om ’n lofsang vir Hom te sing. Ons moet Hom loof vir ons uniekheid; vir die voorreg dat Hy soveel moeite gedoen het met ons. Ons lofsang moet aan Hom die eer bring. Ons lewens moet getuig van ons dankbaarheid teenoor ons Skepper wat ons so mooi gemaak het.

Skryf met jou volgende verjaarsdag ’n loflied vir die Here waarin jy Hom dank vir wie jy is, of vir wie jou kinders is. Leer hulle sommer van kleins af hoe spesiaal hulle is en dat hulle opgewonde en dankbaar moet wees vir hulle uniekheid.

Here, ek is een van u kunswerke. Dankie dat U my geskep het. Ek loof U daarvoor. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gina ·

Ek is net so opgewonde oor verjaarsdae. So baie mense sê vir my ag dis net nog n dag. Nee nooit! Jys geskape vir n doel, hoe klein ook al. Jyt nog n jaar gekry om daardie doel hier op aarde te volbring….hoe gering dit ook mag wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.