Gedagte vir die dag: Jou wapenrusting

Liefde-vir-God

Argieffoto.

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. (Efesiërs 6:11)

Paulus is in die tronk waar daar sekerlik min afleiding is, hoewel die owerhede hom toelaat om gereeld briewe vir verskeie gemeentes te dikteer. Hy is in ’n benarde posisie, maar hoop om vrygelaat te word sodat hy weer kan preek. Hierdie hoop hou hom getrou aan sy roeping en help hom om die omstandighede waarin hy verkeer tot sy beswil en tot beswil van die gemeentes te verwerk. Hy bly ook nie stil nie, maar maak van elke geleentheid gebruik om die evangelie te verkondig.

‘Ter wille van hierdie evangelie is ek ’n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is,’ laat weet hy die gemeente van Efese (Ef 6:20).

Ek kan my voorstel hoe hy gereeld met die wagte gesels en Jesus se liefde met hulle deel, hoe hy nie net die gemeente inspireer om hulle met die wapenrusting van die geloof te klee nie, maar die wagte wat tot bekering gekom het ook daarmee aanmoedig om te stry teen die aanslag van die Bose.

Pak jou dag ten volle toegerus aan – die waarheid as gordel om jou heupe, die vryspraak van God as borsharnas, bereidheid om te getuig as skoene aan jou voete, geloof as skild in jou een hand, die swaard van die Gees in die ander en die verlossing as helm op jou kop. God is getrou, Hy stry die stryd saam met jou.

Almagtige Here, dankie dat U ons bewapen teen die Bose.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Ja, dis waar ons sterkte le. Die beste bydrae in ‘n lang, lang tyd!

Oorwinnaar ·

Dit werk regtig. Ek was kromgetrek met Post traumatiese stress, fisies siek van angs en depressie na uitgerekte en erge trauma, todat ek die geestelike wapens begin visualiseer en gebruik het. Al die onaangename simptome soos velsensasies, hoë bloeddruk, edeem, bewerigheid, borspyn – dit het onmiddelik soos mis voor die son verdwyn. En ek wat dood was, lewe.
Dankie my Vader, my lewe behoort aan U, en al my dae om U te behaag.

Karel ·

Dankie, wat jy hier geskryf het Oorwinnaar, het my weer met nuwe hoop gevul en net laat besef om aan te hou om vas te hou aan die Here en my ook te bewapen, Sy Woord is waar en eg en het krag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.