Gedagte vir die dag: Jou werk

Snoei_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 2 Timoteus 2:8-15

Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider … wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie … (2 Timoteus 2:15)

Jesusvolgelinge weet reeds dat daar nie medaljes op hulle wag nie, dat daar geen status aan hulle belowe word nie. Dat daar eerder heelparty dorings en distels op die pad agter Jesus aan is. En, les bes, dat die “ampsdrag” ’n voorskoot insluit.

Om in God se koninkryk te mag werk, is ’n onbeskryflike voorreg. Met “voorreg” in dié geval, nou ja, ’n werkwoord.

Ook dít is nie nuus nie: Soveel van Jesus se mooiste koninkryk- stories het arbeiders as vername karakters (vgl. bv. Matt 20:1-16), en selfs slawe (vgl. Matt 24:45-51; 25:14-30). In hierdie stories het die Hoofkarakter (ja, altyd Hý, die koninkryk se Koning) se uitsprake en waarskuwings én sy barmhartigheid ten nouste met hierdie arbeiders se dagtaak te doen.

Dit is dus logies dat die arbeiders – of hulle nou in ’n destydse koninkrykstorie verskyn of in ’n hedendaagse gestalte van daardie koninkryk – goed moet oplet na die werk wat hulle aangesê is om te doen. Dat hulle hulle tog nie daarvoor sal skaam nie.

Het ons dan nie klein-klein reeds geleer dat die Here se kinders alle werk “asof vir die Here” moet doen nie? Ons weet tog dat ons almal in sy diens is – of ons nou kinders onderrig of die strate vee, die wêreld se kantoorgeboue beman, die Here se Woord verkondig of iewers op ’n sypaadjie sit en groente verkoop. Ons doen dit vir Hom. Wat ’n voorreg!

Laat ons ons tog daarop toelê, sê Paulus, om ons bes te doen. Ons werk in sy diens dra immers die Koninklike stempel.

U vertrou my, Here, in die werk waarvoor U my geroep het. Ek weet ek is onderhewig aan u gehaltebeheer.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.