Gedagte vir die dag: Juig, aarde!

vrede_berg_see_arms-uitgestrek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 97

Die Here regeer, die aarde moet juig …! (Psalm 97:1)

’n Feit, en ’n opdrag. Hoe kan die aarde dan anders as om oor sy Skepper, sy Regeerder, te juig?

Dit is immers Hy, sê hierdie oorstelpte digter, Hy met die troon wat op reg en geregtigheid gebou is (vgl. v. 2), wat Homself aan almal wys.

Boonop, sal hulle gou uitvind, is Hy veel meer as sy kosmiese verskyning; Hy is die groot Ontfermer. Hy bewaar, Hy red (vgl. v. 10). Hy bring lig en blydskap (vgl. v. 11). Oor Hom moet almal wat Hom liefhet, juig (vgl. v. 12).

En hulle het alle rede daartoe. Want Hy is toe nie net onmeetlik groot en onpeilbaar ver nie; Hy is ook die Een wat laag genoeg buk om sy kinders op te tel. Wat geduldig genoeg is om hulle te dra, getrou genoeg om hulle nooit neer te sit nie. Hy is dus altyd daar vir sy kinders; Hy is altyd hiér.

Hoe gebeur dit dan dat die aarde nie bly is nie? Hoe is dit dat sy skepping en sy skepsels Hom nie meer ken nie? Waar moet hierdie psalmdigter soek na die redes vir die moderne ongeloof?

Dalk vind hy dit by die Godskinders wat beter weet, maar wat nie duidelik genoeg wys waar en hoe God is nie. Die Godskinders wat dikwels ’n groot ophef van hul geloof maak, maar wat nie lank genoeg stilbly om die twyfelstemme aan te hoor en daaroor na te dink nie. Die Godskinders wat hul godvrugtigheid aan hoë bome hang vir almal om te bewonder, maar wat nie naby genoeg aan die sukkelaars kom om hulle met hul Here se teenwoordigheid te troos nie.

Help my, Here, om te sê: Ek behoort aan U, nie aan myself en my eie goedheid nie. En help almal dan om te glo wat ek sê.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.