Gedagte vir die dag: Juig, al wat leef !

blydskap_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 100

Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam. (Psalm 100:4)

In ’n vroeër tyd was hierdie psalm een van dié wat die meeste in Afrikaanse kerke gesing is. En dalk, wie weet, word die geliefde beryming hiervan steeds wyd gesing, oral waar daar ’n gemeente saamkom en uitroep: “Juig, al wat leef, juig voor die Heer!”

Wysie en woorde werk hier gemaklik saam, en wanneer gelowiges mekaar uit volle bors daaraan kon herinner dat die “bondsvolk” in sy huis moet saamkom omdat die Heer “goedertieren” is, en dat sy goedheid nimmermeer eindig, dan was die wêreld reg.

Dit is vandag steeds so. Daar is min sulke inspirerende tye in die kerk soos wanneer gelowiges saamsing. Buitendien: Mense sing makliker saam oor die Here se goedheid as wat hulle daaroor saam- praat. Want ’n lied soos dié vra nie teëpraat nie; in geen loflied is daar plek vir ’n “ja, maar” nie.

Dalk bied dié ou danklied, in enige beryming en met enige wysie, boonop aan gelowiges ’n alternatief vir die ewige gepreek wat kerk- mense mekaar aandoen. Iets anders, iets meer as die voltydse vermaning van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie”.

Met dié lied leer ons straks om ’n slag bloot “dankie, Here!” te sê. En dalk sal ons begin verstaan wat die psalmdigter bedoel het toe hy eeue gelede al gesing het: “Dien die Here met blydskap!” (v. 2).

Miskien, wie weet, sal die gereelde aanhef van so ’n lied mense soos ons skaam genoeg maak oor die gedurige gefrons, die louter ondankbaarheid, die totale lofloosheid waarmee ons leef. Ons wat beweer dat ons in ’n goeie God glo.

Here, help my, kerkmens, om saam met al wat leef te juig. Om juigend te leef, juis ook buite die kerk.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Van die ouer woorde wat in die 1933/53 vertalings van die Bybel voorkom is vandag met baie beter beskrywende woorde in die afrikaanse taal vervang.Goeie voorbeelde is
bv,vergenoeg,onvergenoeg,lankmoedigheid,goedertierenheid,vlees ens.Enige taal wat nog gepraat word,ontwikkel.Die 1983 vertaling het ook gebreke waar bv metafore wegvertaal is.Ps 23.”U stok en u staf die vertroos my”het eenvoudig geword:In u hande is ek veilig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.