Gedagte vir die dag: Julle sal ontvang

man-with-open-arms-705x335.jpgTot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome sal wees. (Johannes 16:24)

Volkome blydskap? Beteken dit om so gelukkig te wees dat jy niks meer begeer nie? Maar wat begeer jy, wat begeer jy die heel meeste? Wan­neer sal jou blydskap volkome wees?

Wil jy graag ryk wees en gemaklik leef? Wil jy nie eens werk vir die voor­reg nie? O, om die lotto te wen! Dit sal al jou probleme oplos. Het jy al gewens, gewaag om te bid met daardie kaartjie in jou hand?

Of sal jou blydskap volkome wees as jy nie meer alleen is nie en eindelik ’n maat kry wat net so lief is vir jou as wat jy vir hom of haar is? Miskien soek jy erkenning vir jou werk, miskien wil jy geprys word, die wedstryd wen, eerste by die wenpaal kom of wêreldroem verower! Of dalk wil jy weer jonk en vol lewenslus wees, gesond wees, opstaan en loop.  Volgens Jesus het volkome blydskap ’n totaal ander oorsprong: Wanneer Hy die nag voor sy kruisiging vir sy dissipels bid, vra Hy dat hulle die ware God sal erken, dat hulle Hom sal vereer en sal onthou wat Hy hulle geleer het. Hy bid dat hulle in sy Naam bewaar sal word en dat God hulle teen die Bose sal beskerm. Hy bid dat hulle toegewyd sal wees aan die waarheid en sy woorde oor die wêreld heen sal verkondig. Hy bid ook vir dié wat deur hul prediking tot bekering sal kom. Hy bid vir kennis en insig, vir eensgesindheid en liefde.

‘Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle’ (Joh 17:26).

Here Jesus, ek vra vandag vir die volkome blydskap wat net U kan gee. Ek het dit so nodig.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

T. J. Pretorius ·

Ek vind hierdie stukkies uit die Bybel wat ek elke dag ontvang baie inspireerend en dit help om my op die regte pad te hou. Wonderlik. Geseend sal julle wees.
Groete.

Theuns ·

Jesus gee my vandag wysheid , dankbaarheid en U vrede wat alle verstand tebowe gaan! Ons prys en loof U! Amen!

Mien ·

Theuns, jou gebed met daardie presiese bewoording is die stukkie genade wat ek vir vandag nodig het. Baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.