Gedagte vir die dag: Jy behoort aan die Herder

gemsbok_and_dunes.jpg

Foto: Marianne Styan

Lees: Psalm 16

Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.” Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. (Psalm 16:2, 5)

Die psalmdigter is hier baie seker van sy feite: Hy behoort aan God, daar is vir hom niks goeds nie behalwe by die Here. God is sy lewe, Hy sorg vir hom, en alles wat hy het, kom van Hom af. Almal wat hulle lewe aan God oorgegee het, behoort aan God, ons is sy eiendom. Eerstens omdat Hy ons geskep het en boonop uitgekies het om aan Hom te behoort, en tweedens omdat Hy ons vrygekoop het. Hy het sy kinders lief en ons staan in ʼn verhouding met Hom. Toe hierdie verhouding tussen God en sy skepsels in die paradys deur sonde verbreek is, het God vir ons ingetree: Hy stuur sy Seun na die wêreld sodat Hy op Golgota die losprys vir ons sonde volledig kan betaal. Jesus lê sy lewe gewillig af sodat die verhouding tussen jou en God heelgemaak kan word. Jesus sê in Johannes 10 dat die Goeie Herder sy lewe vir sy skape aflê.

Jy kos jou hemelse Herder sy lewensbloed. Omdat skape nie vir hulleself kan sorg nie, laat God jou nooit alleen nie. Jesus tree steeds vir jou in by God, daar waar Hy aan sy regterhand sit. Boonop het Hy die Heilige Gees na die wêreld gestuur om in jou te woon; God in jou te wees, sodat Hy jou kan leer en lei. “He spares no pains for the welfare of his sheep,” merk Phillip Keller tereg op.

Here Jesus, ek loof U dat U u lewe vir my aan die kruis afgelê het sodat ek vir altyd aan my hemelse Herder kan behoort. Maak my gewillig om deur u Gees gelei te word. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.