Gedagte vir die dag: Jy het God nodig

gemsbok_and_dunes.jpg

Foto: Marianne Styan

Lees: Psalm 63

Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. (Psalm 63:2, 4)

Dit is onmoontlik om vir lang rukke in ’n woestyn te oorleef omdat ’n mens net ’n paar dae sonder water kan klaarkom. Net so kan God se kinders nie sonder Hom klaarkom nie. Dawid het hierdie feit goed begryp. Hy skryf hierdie Psalm juis nadat hy ’n ruk lank in die Judawoestyn moes bly. Net soos hy in die woestyn na water gesmag het, smag hy ook na die teenwoordigheid van God in sy lewe, bely hy in vandag se kernverse.

As daar ooit iets met jou gebeur wat jy glad nie verwag nie, wat jy nie kan begryp of nie met God se liefde vir jou rym nie, is daar een ding wat jy moet weet: Jy het God nodig. Jy kan nie sonder Hom klaarkom nie, net so min as wat ’n mens sonder water in die woestyn kan klaarkom.

Trouens, dit is gewoonlik juis tydens tye van rampspoed in jou eie lewe dat jy besef hoe nodig jy God het. Sonder God het jy geen ware sekuriteit in jou lewe nie. Ons is gemaak om na Hom te soek, vertel Paulus die Grieke in Handelinge 17:27. En ons kan Hom slegs vind wanneer ons weet hoe nodig ons Hom het, skryf Thomas Merton in What’s so Amazing About Grace? van Philip Yancey. Ook jou lewe sal net volkome vervuld wees as jy God in jou lewe het.

Here God, ek dors na U, ek smag na U soos ’n woestynreisiger na lewegewende water. Dankie dat U my vandag laat besef presies hóé nodig ek U het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.