Gedagte vir die dag: Jy het ’n toekoms!

Blom_Reint_Dykema_3.jpg

Foto: Reint Dykema

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Kor 4:18)

Daar is ’n tweede rede waarom Christene hulle nie deur swaarkry laat onderkry nie: hulle weet vir seker dat hulle ’n ewige toekoms in die hemel saam met God het. Om hierdie rede kan hulle dit regkry om hulle oog op die onsigbare dinge te rig wat vir hulle wag. In vergelyking hiermee is hulle aardse woning eintlik maar soos ’n tent, terwyl hulle ’n vaste gebou in die hemel het wat vir altyd sal bly, skryf Paulus (2 Kor. 5:1-2).

Jy hoef jou dus nie langer teen jou swaarkry van vandag blind te staar nie. Jy kan dit met God se hulp regkry om verby daardie swaarkry te kyk en die hemel raak te sien wat op jou wag. ’n Verwagte beloning laat ’n mens swaarkry selfs positief ervaar. Dis mos nie so moeilik om vir ’n ruk lank hard te leer as jy weet dat jy daardeur baie goed in die eksamen gaan doen nie. Net so weet jy: al gaan dit nou moeilik, wag daar eendag ’n ewige heerlikheid op my, naamlik die hemel wat God belowe vir elkeen wat in sy Seun glo (2 Kor. 5:8). Al sien jy op die oomblik nog niks van die nuwe wêreld wat op jou wag nie, weet jy dat jy daarheen op pad is. En daarom kan jy dit ook regkry om moed te hou.

Hemelse Vader, ek loof U vir die belofte dat ek ’n ewige toekoms by U het. Help my om nog ’n klein rukkie uit te hou en aan te hou totdat ek my eintlike bestemming bereik het. Amen

Lees 2 Korintiërs 4:18-5:6

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.