Gedagte vir die dag: Jy is gekies om Hom te ken

paartjie_gesels_uitsig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken. (Jesaja 43:10)

In sekere kringe word baie gemaak van die sogenaamde uitverkiesing – in ander kringe minder. Die feit is dat God mense uitkies, byvoorbeeld sy volk, Israel. Die uitverkiesing is ’n moeilike tema (en nie iets wat ons hier ten volle kan bespreek nie), maar wat ons wel weet, is dat mense tot Israel se verbond kon toetree of ook daar uittree. Heidene soos Rut is ingesluit op grond van haar geloof, en egte Israeliete wat weer hul rug op God draai, is verwerp. Ja, ’n mens se persoonlike verantwoordelikheid en God se verkiesing is in die Bybel ewe waar. Op ’n manier is dit presies dieselfde ding. Ons nie-Jode het self ook deur die geloof deel geword van daardie verbond, volgens Paulus (Gal 3:14). Ja, elkeen wat glo, is uitverkies.

Uitverkies vir wat? Wel, Jesaja 43:10 sê dit mooi: Uitverkies om God te kan ken. Ja, wat ’n voorreg! Ons mag God – die almagtige en ewige Wese – ken, persoonlik ken! Miskien moet dit die hele doel van my en jou lewe wees om God meer en meer te ontdek. Trouens, dit is die doel; dis mos presies waartoe ons geroep is.

Here, ek het ’n groot behoefte om U meer en meer te leer ken. Amen.

Bron:
In die lig van sy genade deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.