Gedagte vir die dag: Jy is God se handewerk

Pottebakker_klei_hande.jpg

Foto: gerhardy.id.au

Lees: Efesiërs 2:1-10

Ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe. (Efesiërs 2:10, NLV)

Elke mens is ’n unieke persoon. Jy het reeds gehoor God het ’n spesifieke bediening vir jou persoonlik. Baie vroue ly aan ’n onnodige minderwaardigheidskompleks, veral wanneer ons ons met ánder, meer talentvolle mense vergelyk. Dan twyfel ons of ons ooit iets in God se koninkryk kan beteken. Maar dis so onnodig: JY is vir God kosbaar, jy is sy handewerk, en daar is net één soos jy. God het jou wonderlik gemaak, Hy noem jou die kroon van sy skepping. En wanneer jy na die res van die skepping kyk, is dit duidelik watter groot kunstenaar dié God is wat die wit wolke, die helderblou lug, die sonsondergangkleure en die blink sterre geskep het.

God het ’n spesifieke taak, jou roeping, wat net jy vir Hom op aarde kan verrig, naamlik om die goeie werke wat Hy vir jou persoonlik bestem het, uit te leef. Verder behoort jy ook Jesus se verlossingsboodskap uit te dra – want elkeen wat in Hom glo, het ook ’n getuienisroeping gekry sodat God se koninkryk op aarde uitgebrei kan word.

God kan jou swak selfbeeld vervang met die seker wete dat jy ’n kunswerk uit sy hand is, en jou wankelende selfvertroue in Godsvertroue omskep. Hy sal jou ook toerus en die krag gee om dié dinge wat Hy van jou verwag te doen.

Here God, dis wonderlik dat ek u handewerk is, die kroon van u skepping. Gee asseblief vir my die krag om die taak wat U vir my persoonlik bestem het te kan uitvoer. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.