En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.” (Markus 1:11)
Maria is deur die engel meegedeel dat haar kind die Seun van die Allerhoogste sou wees. Vir hoe lank het sy nie oor die woorde gewonder nie? Die kindjie, Jesus, het soos enige ander knaap in Nasaret grootgeword. Die Seun van die Allerhoogste?
Toe op ʼn dag gaan Hy na die Jordaanrivier waar sy neef Johannes preek. Johannes preek bekering. Hartsverandering. Lewensverandering. Terug na God.
Met die doop demonstreer en bevestig hy sy boodskap, naamlik die afwassing van ʼn sondige leefstyl. En Jesus laat Hom doop – nee, nie om sy sonde te bely nie, maar om Hom met die sondaarmens te vereenselwig. Mens soos ons, dié mense vir wie Hy as ʼn lig in die duisternis gekom het.
Toe gebeur dit! God kom self aan die woord. Uit die hemel kom daar ʼn stem wat sê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart” (Markus 1:11). Ja, die jongman van Nasaret is inderdaad die Seun van God.
ʼn Mens kan jou nie in God se gedagtes indink nie. Ek meen nogtans dat dit een van die allerheiligste oomblikke was. Die Vader gee daarmee die Seun in wie Hy Hom verheug vir die wêreld prys. Hier begin sy bediening as die lydende Kneg van God.