Gedagte vir die dag: Jy is ’n erfgenaam

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. [Daarom] het God jou ook sy erfgenaam gemaak. (Galasiërs 4:6-7)

Met die geboorte van my eersteling, Karmen, het ek die impak van die waarheid, ek is kind van God vir die eerste keer werklik verstaan. Vir die eerste keer het ek besef: Ouerlike liefde spel onvoorwaardelike liefde en as ons as aardse ouers ons kinders so ontsettend liefhet, hoeveel te meer het God, ons hemelse Vader, ons dan nie lief nie. Christenskap gaan in die eerste plek oor ’n lewende verhouding met die lewende God en nie oor allerlei mensgemaakte wettiese reëls wat ons moet nakom nie. Ons kan in elk geval nie ons verlossing verdien nie. Mensgemaakte godsdiens maak ons swaarmoedig, want ons besef hoeveel op die spel is en hoe ver ons tekort skiet, en dan begin ons met ’n skuldige gewete rondloop. Ons moet versigtig wees om nie die klem te laat val op ons gedrag en prestasies nie, maar op ons verhouding met die Here.

God het ons Syne gemaak en sy Gees woon nou in ons. Dit is Goddelike genade. Wat ’n wonderlike voorreg om kind van God te wees! Omdat ons sy kinders is stuur Hy die Heilige Gees om in ons te woon. Dit is nie iets spesiaals wat net met sekere gelowiges gebeur nie, God gee sy Heilige Gees aan elke gelowige.

Moenie met skuldgevoelens en selfs naderhand met ’n skuldkompleks rondloop nie. Christus het al jou skuld in jou plek gedra. Moenie dit nog self ook probeer dra nie. Moenie op die reëls en regulasies fokus nie, maar fokus op jou verhouding met die Here.

Ons is God se kinders en mag uitroep Abba, Vader. Kindskap impliseer ook erfgenaamskap: as jy kind van God is, “erf” jy alles wat God beloof het (Rom 8:15-17). Moenie toelaat dat enige iets of iemand jou van jou status as kind en erfgenaam van God beroof nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerd Lourens ·

Amen!

Ons moet ophou om “louwarm” te wees. Leef (en beleef) jou Christenskap ten volle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.