Gedagte vir die dag: Jy is ’n skaap!

richtersveld.jpg

Richtersveld Foto: gocampingsa.wordpress.com

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. (Jes 53:6)

Lees Jesaja 53:6-12

My man het een Sondag oor Psalm 23 gepreek en in dié preek gesê dat ons almal God se skape is. Een klein seuntjie voor in die kerk het nie saamgestem nie. Onder gelag van die gemeente het hy kliphard gesê: “Ék is g’n skaap nie!” Maar eintlik ís ons al mal skape wat, soos Jesaja tereg beweer, baie lief is daarvoor om ons eie pad te loop. Soos Israel van ouds kan ons dit maar net nie regkry om op God se pad te bly stap nie. Ons probeer wel baie hard om ons negatiewe karaktereienskappe vir ander mense weg te steek, maar uiteindelik slaag ons nie daarin nie. Dit is juis die mense wat die naaste aan ons leef – ons ouers, man, kinders en vriende – wat die meeste aan hier die onvolmaaktheid blootgestel word en dikwels daardeur ontnugter word. Gelukkig het Jesus ’n plan met ons gemaak. Hy sterf aan die kruis sodat die prys van ons sonde eens en vir altyd betaal kan kom; sodat God óns sonde vergeef en ons sy kinders kan wees.

Tog kan ons ’n kosbare les leer uit ons sondigheid. Omdat jy ’n onvolmaakte sondaar is, mag jy nie van ánder mense verwag om volmaak te wees nie. Hanteer hulle onvolmaaktheid met dieselfde verdraagsaamheid en liefde wat God teenoor jou open baar.

Here Jesus, baie dankie dat U my sonde aan die kruis gedra het. Verander my sodat ek meer soos U sal word. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.