Gedagte vir die dag: Jy is ’n wonder

 babavoetijes.jpg

Argieffoto

Lees: Psalm 139:13-18

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. (Psalm 139:13-14, 16)

Die wonders van die natuur verdof as ons hulle vergelyk met die grootste wonder van almal – die mens wat God na sy beeld geskep het. Elke mens is ’n kunswerk, ’n Godswonder. Voordat ons gebore is, het God ons al geken, Hy het ons gesien terwyl ons nog embrio’s was. Tóé al het Hy ons gekies om aan Hom te behoort, het ons lewens voor Hom oopgelê, was ons lewensdae in sy boek opgeskryf. Hoe meer ons leer oor die werking van ons liggame, hoe meer verwonder ons ons oor die manier hoe elke klein deeltjie sy noodsaaklike funksie het.

In sy boek Na God se beeld skryf Philip Yancey: “Wanneer ’n mens van geboorte praat, kan jy nie anders as om die woord ‘wonderwerk’ iewers in te bring nie.” Elke mens se hormone bestuur die ontwikkeling van sy biljoene selle. Sommige liggaamsdele verdubbel in grootte soos die baba groei en ander word honderde kere groter. Tog groei die verskillende liggaamsdele in ’n perfekte verhouding tot die ondersteunende strukture. Die hele liggaam werk saam. Wie anders as ’n God van wonders sou ’n mens só ongelooflik kan laat funksioneer!

Here God, ek loof U omdat U my so wonderlik gemaak het. Dankie dat U my gekies het nog voordat ek gebore is, en dat U toe al geweet het hoe my lewe sou verloop. Dankie vir die besef dat ek sélf ’n wonder is! Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Deon K ·

Oooh hoe wonderlik om te weet ek is deur God aanmekaar geweef endat Hy my lief het. My God is groot Dankie vir kosbare Woord in Stilte tyd

Hanlie ·

Amen. ja en God het geen foute gemaak nie. Almal geskape na sy beeld. Dankie Vader

Jenny Thom ·

ABBA Vader
Baie dankie dat U ons eerste liefgehad het. U verwag van ons om u te bemin met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en al ons kragte. Met ander woorde van ons kroontjie tot by ons voetsole, soek U ons onvoorwaardelik net vir Uself. U is ‘n jaloerse Skepper/Elohim.
U het ons geskape nie vir ons eie selfsugtige redes nie, maar om vir U tot eer en heerlikheid te wees. Ons is so self-gesentreerd en besef nie dat die enigste rede hoekom ons op moeder aarde is, is dat ons die weg na U moet terugvind vanwaar ons vandaan gekom het nie.
Baie dankie vir U Genade, Barmhartigheid, Liefde, Trou en Geduld wat ons elke dag dra.
U belowe:
Verlustig jou in My en Ek sal jou gee al die begeertes van jou hart;
Ken My in al jou wee en Ek sal jou paaie gelyk maak.
Dankie ABBA, ek verklaar:- U is my hele lewe en ek bemin U onvoorwaardelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.