Gedagte vir die dag: Jy is nie gemaak en laat staan nie

Pottebakker_klei_hande.jpg

Foto: gerhardy.id.au

Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom. (Filippense 1:6)

“Ek is nou maar so. En so … en so,” vertel ons vir mekaar. Soort van: “Dis hoe ek is. En ek is nie van plan om te verander nie.” Lees: “Ek wíl eintlik nie verander nie, want dis vir my gerieflik om te bly soos ek is!”

Natuurlik is daar gebore en ontwikkelende talente en persoonlikheidseienskappe in elkeen van ons – dinge wat baie diep in ons vasgelê is. Maar daar is altyd maniere hoe ons dit wat nié so goed is nie, beter te bestuur, soos hoe ons kan groei in ons verhouding met onsself, ander en ons Vader. Want die Woord leer ons dat enige mens se storielyn kan verander. Onthou vir:

  • Dawid wat owerspel gepleeg het, maar tot skulderkenning en ’n terugkeer-na-die-waarheid gekom het.
  • Maria Magdalena in wie daar na bewering sewe duiwels was, maar so lief geword het vir Jesus dat sy sy voete met haar trane gewas het.
  • Petrus wat nogal vinnige uitsprake kon maak, maar later geleer het om sy woorde met die Gees te kalibreer.
  • Paulus wat oortuig was dat Christus-volgers verkeerd is, maar later ’n stryder vir die evangelie geword het.

Jy is nie “maar so” nie, want God hou nie op om jou te help vorm nie. Wees klei in sy hande.

Bly my Pottebakker, asseblief, Vader?

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.