Gedagte vir die dag: Jy is so, so kosbaar

hands-by-Niecey-sm.jpg

Foto: jewelsofencouragement.com

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet … (Jesaja 43:4)

Wat ’n wonderlike vers is Jesaja 43:4! Die profeet verseker die volk dat God hulle liefhet. Die woorde wat Hy gebruik, is intiem en warm – die soort taal wat geliefdes met mekaar deel. Dis woorde wat eintlik gefluister word. Dit maak ’n mens verleë dat God so oor ons praat! Dit is geen wonder dat ’n verhouding met God deur die eeue beskryf is in intieme liefdestaal nie (dink maar aan Hooglied), want daar is nie eintlik beter woorde nie. Dit is ’n absolute liefdesverhouding.

Ek kan dit vandag net beklemtoon: Jy is kosbaar en waardevol vir God, mooi en uniek. As ’n handgemaakte kunswerk van die Skepper is jou waarde onberekenbaar hoog. God is meer as tevrede met jou – Hy beleef intense liefde vir jou! Sy totale verbintenis aan jou is bewys in Christus, wat gesterf het sodat jy ewig kan lewe. Daar bestaan geen groter liefde nie. Daarom moet jy onthou:

  • Jy mag jouself nooit minderwaardig ag nie. Jy is nié lelik, sleg of niks werd nie. Weier om sulke leuens te glo.
  • God begeer dat jy Hom ook so sal liefhê – met jou hele hart, siel en verstand. Sal jy?

Here, ek het U lief. Amen.

Bron:
In die lig van sy genade deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa B ·

“Uniek en baie kosbaar”. Here hoekom word ons dan uitgemoor? Ons land en ons mense word vernietig. Dit word net elke dag erger. Meer en meer – onskuldigde mense wat so wreed vermoor en aangerand word. U is in beheer Here. Hoekom “wen” hierdie mense dan?

A ·

Omdat ons Hom nie erken as ware God en so leef nie. Kyk maar na al die kommentaar wat mense gee. Woede is orals te sien. Haat is baie lewendig. HY het ons lief, maar het ons HOM so lief?

Henk ·

Ek het God nie in die rye by die verkiesings gesien staan nie. Moenie dit voor Sy deur lê nie.

Basjab ·

Lees 11 Mei 2017 se Gedagte vir die dag. Ons leef na die sondeval in n gebroke wereld. Niks is volmaak nie. As dit n volmaakte wereld was sou alles volmaak gewees het. Ons moet ten alle tye in GOD glo en hom bo alles lief he en HOM alles maak in ons lewens. GOD se nerens dat daar nie slegte dinge met ons sal gebeur nie. Leef n lewe naby aan GOD.

Oompie ·

Nee A- die wat wel erken en so leef word vermoor deur die wat nie so glo en leef nie.

Liezl ·

Ons weet nie nou nie, ons staar vas in die wreedheid van die wêreld. Maar ons moet ons oë gerig op Hom hou! Maak nie saak wat hier gebeur nie. Dis aardse goed. Al word ons uitgemoor, bly getrou. Al word ons mense siek, bly getrou. Alles sal eendag geopenbaar word aan ons. Ons elkeen is kosbaar. Bly glo en vertrou. Hy het jou gemaak, die keuse wat jy as mens uitoefen, is jou eie keuse. Ek beoefen eerder die keuse uit om aan HOM getrou te bly en uit te vind dat daar niks was as ek sou sterf as om ‘n keuse uit te oefen sonder HOM en dan uit te vind HY is daar as ek sou sterf.

Elmien ·

Dit is waar, jy moet jouself nie deur die wêreld se oë sien nie, maar deur God se oë. Verder, as jy 100% op God vertrou, Sy wil doen en jou verbly in Hom, begin wonderlike dinge gebeur, watookal met jou sterflike liggaam hier op aarde gebeur.

Jemma ·

Ek sal enigiets kan hanteer. ‘n Bende moordenaars, marteling, vernedering, vervolging, isolasie, honger, pyn. Al wat ek nie sal kan hanteer nie is om ooit weer van God geskei te word. Die wêreld se rykdomme en intriges beteken vir my niks nie, ek wandel in Sy liefde en daar is niks, niks wat my uit Sy hande kan wegruk nie.

FIONA ·

Die mees WONDERLIKESTE gebeurtenis ooit in ons lewens is die woord Johannes 3 vers16
Want so lief Het God die wereld gehad dat sy ENIGSTE SEUN vir ons sonde gesterwe het-en die dood oorkom het
En nog meer wonderbaarlik is die feit dat Die Kruis nooit terug geneem word nie
Al die eer aan ons Grote en Almagtige Vader-daar is nie woorde om God se liefde vir ons te beskryf nie

Dries ·

die Here sê nérens dat dit altyd in die lewe net met ons goed sal gaan as ons sy kinder sis nie, Hy sê nérens dat die hartseer van die wêreld ons nie sal tref nie, omdat ons vir Hom kosbaar is en Hy ons innig liefhet waarborg Hy ons dat Hy deur Sy Gees saam met ons deur hierdie hartseer sal stap en op Sy tyd sal Hy ‘n einde aan al hierdie ellende wat ons moet verduur maak. Die absolute waarborg wat Hy ons gee, is dat ons as Sy kinders sal! veilig daarby sy Vader se Hemelwoning arriveer en dan sal Hy al die trane van ons oe afvee en dan sal daar geen hartseer meer wees nie. Ons kan dus versekerd weet ons is vir Hom kosbaar, Hy het dan Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes te betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.