Gedagte vir die dag: Jy is vergewe

hand_stiltetyd_jackson-david_pixabay.jpg

Foto: Jackson David, pixabay.com

Toe sê Jesus vir die vrou: “Jou sondes is vergewe.” (Lukas 7:48)

As daar een ding is wat Jesus baie graag wil doen, dan is dit om mense se verhouding met God te herstel. En net Hy kan, want as die Seun van God, wat mense se harte sien en ken, kan Hy ’n uitspraak maak van vergifnis vir dié wat in skuld by God geleef het en berou het daaroor.

Jesus het al vergifnisuitsprake gemaak voordat Hy aan die kruis gesterf het. Die Bybel leer ons dat selfs dié in die Ou Testament wat reg geleef het voor God deur Jesus se kruisdood geregverdig is. Jesus het ’n paar keer nadat Hy mense se siektes genees het, aan hulle gesê dat hulle sondes ook vergewe is.

Wanneer die vrou Jesus se voete salf, sê Jesus vir Simon die Fariseër dat sy dankbaar is omdat haar sondes vergewe is. Maar dan sê Jesus nog ’n keer aan haar: “Jou sondes is vergewe” (v. 48). Toe begin dié wat saam aan tafel was onder mekaar sê: “Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?” Jesus sê egter vir die vrou: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” Op grond van haar geloof in Hom, die Seun van God en die Verlosser van die wêreld, verklaar Hy dat sy vergewe is. Haar geloof het haar gered. Sy het waarskynlik na Jesus se woorde geluister, diep onder die besef gekom van haar eie sonde en besluit om daarvan weg te draai en ’n nuwe lewe te begin. Die verandering wat binne-in haar plaasgevind het, was so geweldig dat sy moes kom dankie sê. Jesus bevestig egter ’n tweede keer dat sy werklik vergewe is.

Die Here wil hê ons moet ook leef in die bewussyn van die vergifnis van ons sondes. Moenie daaroor twyfel nie. As jy omgedraai het na Hom en jou lewe aan sy voete neergelê het terwyl jy ’n begeerte het om te doen wat Hy vir jou sê, weet jy mos dat jy aan Hom behoort en dat jou sondeskuld vergewe is.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.