Gedagte vir die dag: Jy is vir God belangrik

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie. (Psalm 139:23-24)

Psalm 139 is sekerlik een van die allermooiste psalms in die hele Bybel – dit vertel ons God ken ons deur en deur en is elke oomblik van elke dag by ons. Met elke tree wat ons gee, is God daar, Hy ken selfs ons gedagtes en weet wat ons gaan sê nog voor ons daaroor gedink het. Wat ’n geweldige troos, God is by ons. Al beleef ons moeilike omstandighede, Hy is daar. Jy en ek kan nooit uit sy hand val nie, ons is vir Hom belangrik, Hy is betrokke in ons leefwêreld. Ons kan niks vir God wegsteek nie, selfs nie ons grootste geheime of slegte gedagtes nie. Hy ken ons en weet wat ons verkeerd doen, al is ons alleen. Tog verwerp Hy ons nooit nie. Hy haat wel die sonde, maar het die sondaar innig lief.

Al wil ons, kan ons nie op eie stoom in God se wil bly wandel nie; ons het Hom nodig om ons te help, om ons hart te deurgrond – ons is baie afhanklik van God. Slegs as Hy ons kliphart uithaal en ons ’n hart van vleis gee en ons denke vernuwe, kan ons sy wil kies. Hy hou ons op die regte pad.

Die digter praat in hierdie psalm van ’n onrustigheid binne hom wat hy graag wil hê God moet stilmaak deur hom te wys of hy op die regte pad is. In ons almal, of ons nou kind van God is of nie, is daar ’n soeke na God, “iets groter as onsself” sal nie-Christene dit noem. Dit laat ons onrustig voel en die wonder is dat net God vir ons ware vrede en rustigheid kan gee. Sy vrede is anders as die wêreld s’n. Dit is nie materiële oorvloed of positiewe gedagtes nie, dit is ’n Goddelike vrede wat te midde van wat ook al ons omstandighede is vir ons in God laat rus vind. Dit is vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theuns ·

Ja God het ons innig lief. En dit kan ons sien in die skeppings verhaal toe hy die mens geskep het. Ons God is ook nie ‘n primitiewe God nie maar hy laat ons in verwondering! Die jongspan dink hule weet alles en dat hule al die kennis in pag het! Dat hulle tegnies en wiskundig gevorderd is , dat hulle ‘n “app” kan aflaai om in n sekere behoefte te voorsien soos om die huis alarm, ligte, Tv ens aan te sit of af te sit! Maar kyk wat God doen toe hy die mens gemaak het? God neem klei grond, vorm die mens en blaas sy asem “gees “in die mens in om die ongelooflike stelsel te vorm en voorsien die mens met ‘n alles omvattende “app of application” om in sy behoeftes te voorsien! Na die aksie van God om die mens temaak kon die mens( man en vrou” onmiddelik voortplant vir altyd deur die app in hulle saad, die app maak ook voorsiening vir die volgende: Soos die skrywer se het die mense ‘n ewigdurende soeke na god, die mens kan in gebed tree met God deur te bid, die mens kry instruksies om self die wonderlikste uitvindings te maak en hy gee die mens ‘n vrye wil om tussen Goed en Kwaad te onderskei!! So kan ‘n mens die diepte van God en sy bonatuurlike Inteligensie raaksien as jy net bereid is om te kyk! Groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.