Gedagte vir die dag: Jy kan dit doen!

IMG_0056-2 - Copy.jpg

Foto: Namakwa Toere

Lees Genesis 21:1-7

Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. (Efesiërs 3:20)

Ek het onlangs gehoor van ’n man van Nieu-Seeland met die naam Craig Marsh. Hy was in geweldige pyn en moes ’n maagoperasie ondergaan. Die chirurge het ’n aggressiewe kanker in hom ontdek. Later kon Craig skaars eet. Sommer gou het hy begin wegkwyn. Niemand het verwag dat hy meer lank sou leef nie.

Op ’n dag het ’n paar mans rondom Craig gaan staan en vir hom gebid. Hulle het ure lank gebid. Toe was Craig skielik honger. Dit was die eerste wonderwerk. Sy vriende het vir hom iets gegee om te eet. Die dokters was verstom en hulle is steeds sprakeloos. Daar het nou al meer as ’n dekade verloop sedert God vir Craig gesond gemaak het. God kan enigiets doen.

Die Bybel is vol verhale van die wonderbaarlike dinge wat God gedoen het. God het vir Abraham op die ouderdom van 100 ’n pa laat word. Dit was ’n wonderwerk. Dit is ’n nog groter wonderwerk dat God Sara se liggaam ’n kind in die lewe kon laat bring al was sy reeds 90 jaar oud. Elke baba wat gebore word, is ’n pragtige skeppingswerk van God, maar om ’n baba te verwek met twee bejaarde liggame – dít is ’n ongelooflike wonderwerk.

Abraham en Sara se wonderwerk het nie met hulle baba opgehou nie. Hulle moes hierdie baba as bejaarde ouers grootmaak. In gehoorsaamheid het hulle dit gedoen deur die krag wat God vir hulle gegee het.

Om te doen wat onmoontlik is – dít is wat God elke dag doen. Groot, onmoontlike dinge lyk nie te moeilik wanneer jy daaraan dink dat jy alles kan doen deur die krag wat Christus vir jou gee nie. Watter moeilike ding moet jy nou doen?

Hartspraatjies: Ma, kan jy onthou van ’n wonderwerk wat jy self sien gebeur het of waarvan jy gehoor het? Vertel vir jou dogter daarvan. Dogter, daar word gesê iemand wat nog nooit ’n blom gesien het nie, sal dink ’n perdeblom is ’n groot wonderwerk. Gaan soek ’n blom of plant en neem dit na jou ma toe. Ondersoek dit noukeurig en gesels oor hoe dit julle herinner aan die wonderwerk van God se skepping.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.