Gedagte vir die dag: Jy kan

geluk_uitgestrekte-arms_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:13)

Die krag wat die Here gee, gaan alle verstand te bowe. Dit is alles wat ons nodig het. Dit gee moed, volharding, selfvertroue, dapperheid, insig, kennis, wysheid, medelye, verdraagsaamheid, geduld, welwillendheid en liefde. Dit is skeppend en herskeppend, fisiek en geestelik. Dit hou jou nederig en dryf jou na groot hoogtes tot eer van sy Naam.

Wanneer ’n taak soos ’n berg voor jou oprys en jy nog maar op die vlakte staan en opkyk, kyk hoër – na Hom, die God van hemel en aarde, en Hy sal jou krag gee. Dink aan Abraham, Isak, Jakob en Josef, dink aan Moses en Josua, Dawid, Ester en Job. Waar het hulle die krag gekry om uit te styg bo hul tydgenote? Hul krag kom uit hul geloof in die Here hul God, die God wat hulle met al hul menslike tekortkominge en in alle omstandighede bly aanbid het.

Staan jy vandag voor ’n muur? Jy moet aan die ander kant kom en jy weet nie hoe nie? Doen dit soos Dawid saam met God. Sê soos Dawid in Psalm 18:30: ‘Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.’

Die mure wat jy vandag moet oor, is dalk nie van stene nie, maar is sim­boliese versperrings wat in jou pad staan om jou werk behoorlik te doen. Pak hulle aan met gebed en absolute vertroue in ons wonderlike Here en Vader God was jou sál help.

Voel jy vandag moeg en moedeloos, kragteloos? Raak rustig, gee jou krag­teloosheid vir Hom en vra Hom om jou te versterk en te verkwik. Hy sal jou nuwe hoop gee en jou met ongewone krag vul – die krag van die Gees wat net van Hom af kom.

Hemelvader, dankie dat U ons ondersteun en in staat stel om dinge te doen wat ons sonder U nie sou kon aandurf nie. Dankie dat U ons ook keer wanneer ons oormoedig raak en die onmoontlike wil aanpak.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anette Thirion ·

Amen en amen dankie Heer dat U ons krag gee wat omstandighede ook al mag wees amen

Theuns ·

Hemelse Vader ons dank U vir die kragtige werking van U heilige Gees en die vergifnis wat U aan ons skenk! AMEN!

ElgeraineR ·

Dankie Here dat U my versterk met U nabyheid, wanneer ek moedeloos voel, maar ook op my gelukkigste is.
Een aan U!

roetie ·

ja met god aan my sy weet ek dat ek n bende kan storm loop..dankie jesus dat ek weet dat daar is vir my en ons almal…..AMEN

Gawie ·

Al wat Paulus in hierdie gedeelte wil sê, is dat hy al deur bitter swaar finansiële tye gegaan het, en ook deur finansieël uiters voorspoedige tye. Die Here God het hom deur alles gedra en hy vertrou vir die toekoms dat God hom steeds materieël sal versorg. Dit gaan NIE vir Paulus oor aardse sukses, groot hoogtes of prestasies nie. Allermins! Met die vertroue wat hy in God het vir die toekoms, sal hy in staat wees om gelowig en diensbaar vir die Here te bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.