Gedagte vir die dag: Jy mag die lewe geniet

 sonsondergang_mense_strand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet … Dit kom ’n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk … Dit is ʼn gawe van God. So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur … (Prediker 5:17b-19)

Daar is ’n staaltjie wat van ’n predikant vertel wat uitgenooi was om te gaan preek by ’n naburige dorp. ’n Ouderling van die gemeente sou hom by die stasie oplaai. Die ouderling het egter nie geweet hoe die besoekende predikant lyk nie. Toe hy op die stasie kom, het hy begin soek na iemand wat soos ’n predikant lyk. Hy nader ’n vroomgesig man en vra: “Is jy Dominee van der Merwe wat by ons gemeente vanaand kom preek?” Die man het die ouderling verward aangekyk en gesê: “Ek het ’n maagseer, daarom lyk dit dalk vir jou of ek ’n predikant is.”

Die verhaaltjie laat my elke keer lekker lag – niks teen predikante nie, ek is self een, maar daar steek tog ’n stuk waarheid in. Soveel Christene dink ons moet asseblief tog net nie die lewe te veel geniet nie, ons moet ons lewe lank vroom en stug wees. God se Woord sê egter die lewe is ’n geskenk uit ons Vader se hand. Ons mag dit geniet en moet dit met beide hande aangryp. Komaan, moenie net bestaan nie, begin leef. God gun jou ’n lewe van oorvloed.

Moet egter nie die fout maak om te dink dat jy slegs die lewe kan geniet wanneer jy op duur vakansies gaan, of as jy getroud is of dit met jou goed gaan nie. Natuurlik is al hierdie dinge lekker om te hê, maar ware vreugde en diepe tevredenheid is slegs by God te vinde. Hy laat jou heel en volledig voel. Stel jou vertroue in die Here en in die feit dat Hy altyd uitkoms gee, Hy was gister daar vir jou en Hy sal jou ook in die toekoms bystaan. God se Woord sê Jesus het gesterf aan ’n kruis sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed.

Het jy geweet die meeste mense is so gelukkig soos wat hulle besluit om te wees! Ek daag jou uit om vandag ’n bewustelike keuse te maak; gryp die lewe aan en leef met passie. Sê elke dag vir jouself: “Ek gaan hierdie dag geniet.” Besluit om nie net te bestaan nie, maar om werklik te lewe.

Jy kan nie kies hoe jy gaan sterf nie, maar jy kan kies hoe jy leef.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Ek stem heelhartig met jou saam. Geniet die lewe dit is verniet plus elke dag se byvoordele van genade seen en barmhartigheid. Die lewe is daarvoor om te lewe. Niemand sal die aarde lewendig verlaat nie.

Marie Krugel ·

Dis so waar. Die Woord se: ‘wees in alles dankbaar’ en ‘wees tevrede met wat jy het’. As ons dit verstaan, kan ons nie anders as om bly en vreugdevol te lewe nie! ☺☺????

Sarie ·

Ek verduur al vir jàre gedurige pyn, maar wil nogtans nie noual sterf nie. Ek gaan bitter selde êrens heen, (om van vakansie nie eens te praat nie) maar om te lewe is ‘n gawe van BO & ek geniet die lewe met my 2 hondekinders… En wanneer die plante blom, voel ek bàie geseënd dat ek dit kan sien & ruik… Daar’s baie om te geniet in die klein dingetjies. ‘n Sons-opkoms of ondergang, en die voëltjies se daaglikse gesoek na wurmpies inni tuin, verskaf my ook baie genot. Daar’s tèveel om op te noem…. ‘n Geseënde dag aan àl die lesers…

Sê maar net. ·

Amen. Dit is so waar. Geniet die Lewe en VERBLY JOU IN DIE HERE…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.