Gedagte vir die dag: Jy moet God liefhê

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

Luister, Israel! Die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met al jou krag. (Deuteronomium 6:4-5)

Lees Deuternomium 6:4-7

Gesinne is God se lewende kunswerke. Hoe jy jou kinders grootmaak, beïnvloed die res van hulle lewe. Dit wat jy hulle van die lewe en van God leer, bly hulle die res van hulle lewe by.

In Deuteronomium 6:4 gee God vir ons ‘n opdrag, eintlik twee: luister en hoor. Ons moet hoor dat Hy die enigste God is. Ons moet Hom liefhê met hart, siel en verstand. Daarom moet ons Hom dien met al ons krag.

God nooi ons om in ‘n verhouding met Hom te staan. As jy hierdie verhouding in gehoorsaamheid ingaan, is die wet op die tafels van jou hart geskryf. Dan bêre jy die wet van God in jou hart en gedagtes. Jy leef ‘n Godlewe, ‘n lewe van gehoorsaamheid en afhanklikheid van God.

Ongelukkig vergeet ons so maklik van God en gee toe aan sonde. Ek onthou myself beter as wat ek God onthou en aan Hom gehoorsaam is. Ons moet God elke dag by ons kinders in-skerp sodat hulle Hom nooit vergeet nie. Ons kinders en tieners se selfsug moet ons wegpraat deur God se onbaatsugtige onselfsugtige liefde elke dag op hulle harte te skryf. Ons mag nooit een dag oorslaan om God aan hulle te verduidelik nie. Ouers se lewens moet ‘n getuienis wees van God se verhouding met hulle.

Die Bybel moet die riglyn wees vir jou elkedagse lewe. Lees die Bybel en vertel elke dag die storie met jou lewe. Leer jou kinders dat die storie van die Bybel elke dag hulle vingerafdrukke moet wees. Waar jy kom, moet jy die vingerafdrukke van Jesus agterlaat. Jy moet onsigbaar word en God sigbaar deur jou lewe. Laat jy en jou gesin in julle dien van die Here net kunswerke agterlaat van God se liefde.

Here, ons glo in U. U is elke dag in ons harte. Ek en my gesin loop op u pad. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena Jonk ·

Ons as grootouers kan nie genoeg dank aan ons Hemelse gee vir die Genade dat ons kinders en kleinkinders almal Jesuskinders is nie. Ons het hulle grootgemaak deur elke dag uit die Woord te lees en hulle moes ook hul eie woorde in gebedjies aan Jesus se voete neerle. Ons is baie, baie ryk want ons het Jesuskinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.