Gedagte vir die dag: Jy sal God se hande voel

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help. (Jesaja 44:2)

Soms beskryf die Bybel dinge so mooi … Hier in Jesaja 44:2 spreek die woorde gemaak en gevorm tot my. Die Bybel in Afrikaans 1933/1953 vertaal dit letterlik as God ons Maker en ons Formeerder. Die Bybel se duidelike boodskap is dat ons ge-maak is, en nie net geword het nie. God was betrokke by ons vorming – sy Gees was daar in die moederskoot en was deel van die wonder van samesmelting, seldeling, differensiëring, ryping en groei van die mens wat uiteindelik jou naam dra. God is bewus en betrokke by mense reeds voor bevrugting – ja, inderdaad – en dit maak dat ons anders na die lewe kyk as ongelowiges.

Die woord vorm sê vir my iets van God se hande. God se hande was op jou van die begin af, om jou mooi te maak, net soos jy vandag is – pragtig en waardevol. God se hande was ook al die jare op jou lewe om jou te beskerm, te bewaar en te lei en ook vandag te help, sê hierdie vers. Dalk moet jy jou oë toemaak en sy hande weer ’n slag voel.

Ek prys U, Here, vir u hande op my vandag. Amen.

Bron:
In die lig van sy genade deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.