Gedagte vir die dag: Jy sal nooit weer dieselfde wees nie

Vrou_water_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God! (Psalm 42:6-7)

Die donkerste tyd wat jy nog ooit deurgemaak het, het jou verander, nie waar nie? Dis asof jou hart oopgeskeur en blootgelê is. Dit was seer, maar dit het areas oopgepluk wat nog altyd toe was. Soos groot kamers vol medelye wat nog altyd dormant gelê het.

’n Nuwe soort liefde het uit hierdie skeur begin vloei. Mense kon baie makliker toegang kry tot in jou hart. Daar was ’n skeur wat maklike toegang verleen het en geen effektiewe sisteem vir toustaan nie. Dit het jou hart party dae oorvol gemaak, baie swaarder en moeiliker om te dra, maar dit klop ook nou op ’n dapper, baie lewendige manier. Miskien het dit jou onkant gevang om te besef dat dit eintlik nie meer net jy was nie. Daar was meer van Jesus binne-in jou.

Lyding kan jou egter net so maklik in sinisme laat verval, jou oortuig om “geen toegang”-borde op te rig en sperlinte om jou stukkende hart te span. Sommige mense raak meer gemeen, hardvogtig en iesegrimmig as gevolg van lyding. Hulle kan regtig ondraaglik wees. Nie alle mense word outomaties deur lyding in engele omskep nie. Maar in die lewe wat blymoedig aan Christus oorgegee word, bring dit uitsonderlike, pragtige verandering mee.

Het jou eie lyding jou empatie met ander laat toeneem?

Here, neem my stukkende hart. Maak dit pragtig sodat mense U sal sien en ken. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.