So sê die Here, Hy wat ’n pad gemaak het deur die see, ’n deurgang deur die magtige waters … (Jesaja 43:16)
Die Here sê dat dié wat twyfel in sy vermoë om sy volk na hulle land terug te neem, maar net na die verlede moet kyk. Hy verwys hulle na Israel se deurtog deur die Rietsee. Deur ’n wonderwerk is die Israeliete deur die see en kon hulle uiteindelik in Kanaän aankom. Toe die Egiptenare ook deur die see wou gaan, het hulle almal verdrink. Dieselfde God kan hulle wéér – soos toe – na hulle land toe lei.
Dit leer ons dat ons na die verlede moet kyk as ons sukkel om te glo. Die verlede laat ons besef dat God ons getrou gedra het tot vandag toe. Ek het al van my ou gebedsjoernale weer gevind en gesien waaroor ek (sê maar) ’n jaar tevore gebid het. Dan was dit wonderlik om te besef dat feitlik al die probleme waarvoor ek gebid het, opgelos is! Baie bekommernisse het nooit gerealiseer nie en soms was daar verrassende wendings. Meestal het die geskiedenis anders verloop as wat ’n mens gedink het.
Dink aan jou eie lewe: Was God getrou? Ja, Hy was, en Hy sal vorentoe ook wees.
Dankie, Here, dat U nog altyd getrou was. Amen.
Baie dankie vir elke boodskap soggens,dit dra my deur die dag,voed my gees,maak my hartseer net beter elke dag,want ek weet my Hemelse Vader sorg vir my elke dag.
Baie dankie vir die boodskappe dit inspireer ‘n mens daagliks. Die Here is getrou hy hou sy woord gestand. Laat my sommer vanoggend dink aan die koortjie God sorg vir die mossies my God sal sorg vir jou. Geseende dag verder.
Baie dankie vir so n besonderse boodskap, dis presies wat ek vandag nodig gehad het. ons kyk net na al die probleme van vandag maar ons vergeet van al die gebede vir probleme in die verlede wat verhoor was. baie dankie vir die boodskap