Gedagte vir die dag: Jy’s soveel meer …

 vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking. (2 Korintiërs 12:9)

Baie vroue is wegkruip-siele. Hulle is so halfbang vir die wêreld, skaam vir ander, onseker oor hulself … hulle voel so dikwels minderwaardig. Hoe jammer is dit nie, want die waarheid is dat geen kind van God ooit hóéf weg te kruip nie. Want in Hom is ons ánders. Ons is uitverkore Koningskinders. Geredde siele wat eendag saam met ons Bruidegom aan die hemel-tafel gaan aansit. Wat saam met Hom vir altyd gaan lééf.

As jy so half-wegkruiperig voel, onthou dan God het jou nie lief op grond van wie en wat jy is nie, maar op grond van wie en wat jy deur Hom kan word. Reeds deur Hom ís. Bid in stilte:

Soms, Here, verdwyn ek in my gewoonwees; onsigbaar tussen bekendes, suksesvolles, geleerdes, presteerders … En wonder ek of U my – enkeling – ooit raaksien.

Dis wanneer ek vergeet hoe goed U my diepste wese ken: U lees elke wegsteekgedagte, voel my seerkry, lag oor my vreugde, verstaan al my gisters én môres! Help my onthou, Skepper, dat U my liefhet asof ek u enigste kind is, dat U my koester, Jesus, in alles wat ek is, dat U my onvoorwaardelik vul. Help my onthou dat ek só spesiaal is dat U my nooit vergeet nie!

Liewe vrou, die Here se genade was lankal vir jou genoeg. Neem daardie waarheid en gaan leef … met selfvertroue.

Dankie dat ek spesiaal in u oë is, Here Jesus.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.