Gedagte vir die dag: Kan dit standhou?

hartseer-vrou-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Saul se ander dogter, Mikal, was verlief op Dawid, en toe dit aan Saul vertel is, was hy in sy skik daarmee. (1 Samuel 18:20)

Saul se dogter Mikal raak op Dawid verlief. Saul was in sy skik hiermee, maar stel aan Dawid ’n voorwaarde: Indien hy eenhonderd Filistyne se voorhuide vir Saul bring, sal Mikal as vrou aan hom gegee word. Saul het heimlik gewens dat Dawid in die geveg sou omkom. Nadat Dawid die voorwaarde dubbeld nagekom het, het hy Saul se skoonseun geword. Die huwelik was egter veel eerder ’n transaksie as ’n heilige verbintenis.

Aanvanklik is Mikal liefdevol en lojaal. Wanneer Saul se manskappe Dawid soek om hom dood te maak, skroom sy nie om te jok en te sê Dawid het gedreig om haar lewe te neem in dien sy hom nie in die geheim sal help ontsnap nie. Maar mettertyd groei daar ’n wrewel in haar teenoor Dawid. Wanneer hy met sy linnedoekkleed voor die ark dans, verag sy hom openlik. Vir Dawid – wat dans om God te eer – is haar smalende woorde ’n belediging teenoor God wat hóm as koning uitgekies het. Dit wil voorkom of Mikal Dawid eerder bewonder as liefgehad het. Toe die toets vir hul huwelik kom, het sy gefaal. Haar liefde was nie diep en opreg nie.

’n Huwelik wat nie op onderlinge respek en liefde gegrond is nie, loop die gevaar om te wankel. Dawid en Mikal se verhouding word gekenmerk deur bedrog en bymotiewe – selfs van ander partye. So ’n verbintenis kan beswaarlik standhou.

Here, help ons om altyd die heilige erns van die huwelik te respekteer. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Die bedrog binne die huwelik is waarlik so oud soos die mensdom.

God het bedoel dat die huwelik tussen 2 mense ‘n heilige verbintenis sal wees.

Here help ons om daardie ware betekenis te eerbiedig, te bid vir ons volk se huwelike en dit aan ons kinders te verduidelik op só wyse dat die toekomstige geslagte dit sal eerbiedig.
Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.