Gedagte vir die dag: Karakter van die hart

mense-gesels_mistig_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet. (Matteus 23:28)

Daar is ’n diep sielsvertroosting in die feit dat God nie primêr op gedrag fokus nie, maar op die karakter van die hart, want mense wat op gedrag fokus, laat jou dikwels minderwaardig en onbekwaam voel.

Kan jy onthou toe jy die eerste keer aan tafel gaan sit het by ’n deftige dinee of restaurant en ’n hele versameling eetgerei staar jou in die gesig? Stilletjies het jy gewonder hoekom almal se eetgerei voor jóú neergesit is, en toe slaan dit jou soos ’n donderslag. Dis net joune en jy moet die regte messegoed vir die regte disse gebruik. Dalk het ’n klein benoudheid jou beetgepak, want jy het nie die vaagste benul gehad waar jy moet begin nie! Meer nog, die deftige mense gaan vir jou kyk en sien hoe onopgevoed en ongesofistikeerd jy is en hulle gaan vir jou lag. Die deftige geleentheid het meteens in ’n nagmerrie ontaard.

Die eerste ete daarna met jou vriende by die huis was ’n lafenis! Niemand het omgegee of jy met ’n lepel of vurk eet en of jy die servet op die regte manier teen jou mondhoeke druk nie. Die eenvoudige kos het in ’n feesmaal verander – al was dit net ’n grondboontjiebotter-en-stroop-broodjie met koffie. Dis hoe Jesus is. Hy kan ’n eenvoudige maal in ’n feesmaal verander. Sondaars was gaande oor Jesus juis om hierdie rede. Die Fariseërs kon enige feesmaal in ’n nagmerrie laat ontaard. Jesus het verby die sondaars se sondige gedrag gekyk en hulle hart bereik, want daaruit vloei die oorsprong van die lewe.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.