Gedagte vir die dag: Karoo-tyd

Karoo.jpgU wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd. (Psalm 16:11)

In die Lééf van Julie 2014 vertel Wendy Maartens van haar en haar medepelgrims se tien dae lange staptoer deur die Karoo. Hulle moes ’n paar dae se reën hanteer. Ná die modder-stap-dae het hulle saans – moeg en met seer lywe – mekaar se harte om ’n kampvuur warm gemaak. Agterna het sy hierdie kampvuurgedagtes neergepen: gedagtes wat die verhaal vertel van vroue wat hulself afgesonder het om stil te word en te luister … om niks te sê nie, maar alles te hoor. Hier is van hul gedagtes:

  • “Vlug – wees stil – bid sonder ophou. Die wêreld is nie my huis nie. Ek is net op pad hierdeur.”
  • “Afsondering is nie ‘herlaai van batterye’ nie, ook nie ‘privaatheid om my eie ding ongestoord te doen’ nie. Afsondering is om niksheid te konfronteer. Om saam met God te wees. Om te sterf. En op te staan.”
  • “Afsondering bring deernis mee. Dit word ’n plek waar ek ander mense innooi.”
  • “Stilte gee waarde aan woorde.”
  • “Stilte help my om die vuur in my binneste te bewaar. Woorde verwater die krag van God in my … ”
  • “Afsondering is nie om alleen te wees nie. Maar om alleen te wees saam met God.”

Maak elke dag tyd om net sommer stil te word, want stilte spreek duisend woorde.

Vul my hart met u stilte, heilige God.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.