Gedagte vir die dag: Keer my, Here!

staar_see_onweer_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde. (Psalm 19:14)

Benewens die stuk van my eie lewe wat ek nog moet ontdek, die sondes waarvan ek nog nie eers oortuig is nie, is daar my slegte kant waarvan ek wel weet: die opsetlike sondes. Ek is skuldig voor God. Wanneer ek opnuut weer bewus geword het van God se heerlikheid, heiligheid en majesteit kan ek nie anders as om my eie onreinheid te besef nie. Nee, ek wil nie graag my eie dwalings raaksien nie; ek wil nie graag skuld op skuld bely nie; ek wil myself nie graag verneder voor God nie. Maar dan hoor ek sy volmaakte woord wat vir my die regte koers aandui, en ek weet dat daar vir my net één uitweg is, en dit is ’n koersaanpassing, terug na God, terug na sy woord.

Opsetlike sondes. “Dis nou maar ongelukkig deel van my geaardheid. Ek is so gemaak en so laat staan, jammer.” Met dié woorde praat ons ons opsetlike sondes goed, so asof die oortredings geheel en al buite ons beheer is.  Selfverontskuldiging. En ons weet dat dit nie die manier is om met sonde te handel nie. ’n Mens speel nie met God kat en muis nie.

Die psalmdigter het dadelik in die teenwoordigheid van God met sy opsetlike sondes rekening gehou. Hy bid dat die Here hom daarvan sal weerhou. Hy wil nie deur sonde beheer word nie. En selfs daardie één onnoembare boesemsonde moet die Here help om uit sy sisteem te kry. Dit is juis dié sonde wat besig is om die oorhand te kry …

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.